Local sportSport

Hy het nog vele planne vir die rugbyklub

Die nuwe voorsitter van die Pietersburg Rugbyklub (Dorp), 78-jarige Pierre Venter, het baie lewensondervinding en rugbykennis om met die spelers te deel.

POLOKWANE – Pierre sê die klub het ‘n groot struikelblok in 2010 teëgekom toe hulle weens omstandighede van ‘n ander rugbyveld gebruik moes maak om te oefen, wat gelei het daartoe dat van die spelers die klub verlaat het.

“Ons het baie sterk spelers verloor en met die dood van die destydse bestuurders, Johnny Eybers en Gerhard Swan, het dit die klub nóg ‘n harde knou gegee,” verduidelik hy.

Om sake te beredder het Pierre besluit dat die Dorpspanne eers in die reserweliga van die Boet Fickliga moes deelneem. Die spanne het hulself bewys en die reserweliga gewen.

“Ons het die jaar afgeskop met min spelers, maar na die eerstespanproewe het ons omstreeks 50 spelers gehad, baie van hulle nog jonk en pas klaar met skool en aan die begin van hulle rugbyloopbaan. Met al die nuwe spelers wat by die klub aangesluit het kon ons drie spanne maak wat hierdie jaar aan die seniorliga van die Boet Fickliga gaan deelneem.”

Limpopo Toyota is die borg van die eerstespanspelers, maar die klub benodig nog borge vir hulle tweede- en derdespanne.

Pierre stap al ‘n lang pad hand aan hand met rugby en die Pietersburg Rugbyklub.

“In 1954 het ek vir die eerste keer in my eerstespan rugbytrui vir Hoërskool Pietersburg (PHS) uitgedraf en in 1956 het ek as kaptein vir die eerstespan uitgedraf. Na skool het ek vir die o/19 Noord Transvaalspan asook die o/19 Lugmagspan gespeel.”

Hy was deel van die Pietersburg Rugbyklub van 1958 tot 1961 waarna hy vir ‘n paar jaar deel was van die Potgietersrus Rugbyklub.

Die Pietersburg Rugbyklub het hom genader om ‘n afrigter by die klub te wees en in 1973 het hy by die klub begin rugby afrig. Noordelikes Rugbyklub het ook sy afrigtersvernuf ingespan maar vanaf die laat 1980’s was hy nie meer betrokke by die sport nie.

In 2009 het hy egter sy rugbykennis afgestof en by die Limpopo Blou Bulle en later weer die Pietersburg Rugbyklub aangesluit alhoewel hy nie self meer afrig nie omdat hy sê die spel te veel oor die jare verander het.

Pierre is vasbeslote om die spanne van die Pietersburg Rugbyklub tot hulle volle glorie te herstel deur almal se harde werk en deursettingsvermoë.

“In my opinie is ‘n wenspan ‘n span wat as ‘n eenheid kan saamwerk, waar spelers vir mekaar speel en dat hulle bereid is om als in te sit tot voordeel van die span. Ek sien dié potensiaal in ons spanne, hulle kort net ferm en goeie leiding om hulle op die regte pad te stuur en te hou.”

calvyn@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button