Jong hengelaar trek groot visse uit
Jonathan Muller (15) 'n leerder by Tom Naudé sal vanjaar Limpopo Skole Hengel asook die Anguilla Hengelklub verteenwoordig.
POLOKWANE – In 2023 word Jonathan Muller (15) by sy visvangklub aangewys as hengelaar van die jaar, en vanjaar verteenwoordig hy Limpopo Skole Hengel asook die Anguilla Hengelklub.
Jonathan sê hy was ongeveer vyf jaar oud toe hy kennis gemaak het met visvang, en ‘n jaar later aan sy heel eerste liga deelgeneem het.
Hy is tans ‘n leerder by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en oefen elke Sondag die droë gooi. Dit behels om ‘n sinker ‘n spesifieke afstand te gooi. Elke derde naweek spandeer hy tyd by die dam waar hy dan in die water oefen.
“Ek was die kaptein van die Limpopospan en ons het algeheel vierde geëindig. ‘n Ander Limpopospan was derde. Om kaptein te wees is harde werk. Ek moes met mense werk saam met wie ek nog nooit gewerk het nie en ek moes die span positief hou.”
Jonathan erken, die moeilikste van hengel is om jou tempo te hou.
“Jy moet, nadat jy die vis uitgetrek het, vinnig weer jou stok en aas gereed kry, en die stok weer in die water kry.”
Behalwe vir hengel, skiet Jonathan boog ook, maar hy sê hengel is lekkerder aangesien die kompetisie sterker is.