Atlete draf SA’s tweekamp kaf
Drie atlete het Laerskool Krugerpark se naam hooggehou terwyl Micke Prinsloo Hoërskool Piet Potgieter se vlag gewapper het in die Limpopospan.
MOKOPANE – Die 48ste Suid-Afrikaanse Tweekamp Nasionale Kampioenskappe is verlede naweek in Oudtshoorn gehou en meer as 900 atlete van regoor die land het deelgeneem.
Die sport behels dat atlete eers moet hardloop voor hulle in die water induik vir die swembeen van die byeenkoms.
Katrien Visser, Wian Prinsloo en Aldo Vorster het Laerskool Krugerpark se naam hooggehou terwyl Micke Prinsloo Hoërskool Piet Potgieter se vlag gewapper het in die Limpopospan.

Die junior Limpopospan behaal ‘n algehele 11de plek uit 14 provinsies terwyl die senior span die 13de plek inneem.
Die Limpopospan eindig algeheel 12de uit die 14 provinsies.
Die provinsie is baie trots op die atlete wat ‘n uitsonderlike prestasie gelewer het.

Katrien het in die meisies o/11-afdeling deelgeneem en haar hardlooptyd was 01:32.21 en swemtyd 00:53.62 wat vir haar ‘n totaal gee van 1973.48 punte.
Sy behaal ook die 78ste plek uit 85 atlete.
Wian neem deel in die seuns o/11-afdeling en behaal ‘n hardlooptyd van 01:17.60 en ‘n swemtyd van 00:38.40.
Dit besorg aan hom ‘n totaal van 2066.80 punte wat hom 24ste op die telbord plaas uit 89 atlete.
Aldo neem deel in die seuns o/11-afdeling en hardloop ‘n tyd van 01:31.19 en swem 00:41.03.

Hy behaal ‘n totaal van 2026.47 punte wat hom in die 57ste plek plaas uit 89 atlete.
Micke het in die meisies o/17-afdeling deelgeneem en hardloop ‘n tyd van 02:45.93, met ‘n swemtyd van 01:10.12 wat vir haar ‘n totaal gee van 2018.54 punte.
Sy behaal die 24ste plek uit 55 atlete.

Katrien, Micke en Wian behaal ook hulle persoonlike beste prestasie vir die seisoen by die SA’s.
“Hiermee ‘n spesiale woord van dank aan almal van die skole en ouers wat die sport so onbaatsugtig ondersteun met die wete dat fisiese aktiwiteite en goeie sportmanskap al hoe belangriker in ‘n tyd waar tegnologie en gewigsprobleme dreig om ons kinders se lewe oor te neem. Ons sien baie uit na die volgende seisoen wat op 1 Mei afskop,” vertel Jaco Marais, Limpopo Tweekampvoorsitter.




