Leané Bries (15) klim vol moed in die ring
Leané Bries het onlangs 'n skopbokskompetisie gewen en wys daarmee dat meisies nie net hul man kan staan nie, maar dikwels ook bo uitkom.
POLOKWANE – Baie mense meen steeds dat sportsoorte soos karate, stoei en skopboks nie vir jong meisies geskik is nie.
Maar Leané Bries (15) bewys die teendeel, en met trots. Sy het onlangs ‘n skopbokskompetisie gewen en wys daarmee dat meisies nie net hul man kan staan nie, maar dikwels ook bo uitkom.
Leané het in Junie verlede jaar by Ring Kings skopboksklub aangesluit.
Sy, haar suster en ‘n vriend het eers gaan kyk wat die sport behels en die gogga het beslis gebyt.
“My liefde vir skopboks het gegroei toe ek sien hoe ander dit geniet en hulle talente uitleef. Na my eerste oorwinning was ek eers verlig, en toe sommer baie opgewonde,” vertel sy.
Hoewel die fisiese uitdagings groot is, glo Leané dis die geestelike kant wat werklik getoets word.
“Jy moet moed hê om in die ring te klim en aan te hou, maak nie saak hoeveel houe jy kry nie. Ek hou altyd die ingesteldheid dat as ek die een is wat die hardste geoefen het, ek sal wen.”
Voor elke geveg herinner sy haarself: veg asof jy die beter vegter is. Oor die algemene siening dat skopboks nie vir meisies is nie, het Leané ‘n ferm antwoord: “Dit is ‘n goeie manier vir meisies om te leer hoe om hulleself te beskerm. As skopboks nie vir meisies bedoel was nie, sou geen meisie die talent daarvoor gehad het nie.”
Die sport het haar nie net fisiek sterker gemaak nie, maar ook emosioneel veerkragtig.
“Skopboks leer jou uithouvermoë en dissipline, veral op dae wat jy nie lus is vir daardie Maandagfiksheidsklas nie.”
Wanneer sy in die ring klim, probeer sy altyd onthou wat haar afrigters haar geleer het – en om kalm te bly.
“Dis vir my moeilik om te aanvaar dat iemand anders soms beter as ek is. Maar dit motiveer my om harder te werk, nuwe tegnieke aan te leer, en om aan te hou droom van ‘n loopbaan as ‘n professionele skopbokser.”
Haar raad aan ander jong meisies? “Moenie jouself laat keer deur wat ander mense sê nie. As jy ‘n passie het, leef dit uit – met alles wat jy het.”




