Warm aksie by ovaalbaan
Ywerige toeskouers het die koue trotseer en vroegoggend langs die baan byeengekom en die vure aangesteek vir ‘n opwindende byeenkoms.

MOKOPANE – Vroeg verlede Saterdagoggend kon die gebrul van motorenjins gehoor word soos die renjaers voorberei vir die hotrodbyeenkoms by die ovaalbaan buite die dorp.
Ywerige toeskouers het die koue trotseer en vroegoggend langs die baan byeengekom en die vure aangesteek vir ‘n opwindende byeenkoms. Die renjaers het van heine en ver gekom om mekaar die stryd aan te sê.
In die ninja midgetsafdeling het HP Venter die eerste plek opgeraap met Xander Eloff op sy hakke.
Derde was Kudu van Rooyen en in die vierde plek het Reinhardt Meijer geëindig.
In die 2.1l gewysigdeafdeling het Wian Jordaan en Spanner McMahon mekaar die stryd aangesê, maar dit was ‘n encore oomblik toe Wian eerste oor die wenstreep jaag. In die 1660 gewysigdeafdeling was dit ‘n naelbyt oorwinning vir Banie Oelofse; WB van Niekerk was kort op sy hakke en Karlo Ruytenberg het derde
geëindig. Jordan Fourie het die pas aangegee in die junior stockrodafdeling gevolg deur Luan Oelofse en JJ Chamberlain.
AJ Oelofse het eerste oor die wenstreep gegly in die stockrodsafdeling met Francois Engelbreght tweede en Sarel Nel derde.
In die tintop 1660-afdeling het Karlo Ruytenberg (eerste), SJ Pieters (tweede) en Stephan Pieters (derde) die pas aangegee vir ‘n wenplek en die toeskouers naels laat kou.
Die Bosveld Wedrenklub bedank elkeen van die renjaers, toeskouers, baanbeamptes en borge vir die sukses van die byeenkoms.
Die toeskouers kan solank begin beplan vir die volgende byeenkoms, wat op 11 Oktober gehou word.








