G’n stoepsit vir karateka Jackie Eksteen (71)
Op 71 het plaaslike inwoner Jackie Eksteen onlangs aan die TSKKIA internasionale karatekompetisie in Rustenburg deelgeneem.
POLOKWANE – Daar is twee soorte mense in die wêreld: dié wat op 70 hul dae op die stoep deurbring, en dié wat steeds aktief aan sport deelneem.
Jackie Eksteen val beslis in laasgenoemde kategorie.
Op 71 het hy onlangs aan die TSKKIA internasionale karatekompetisie in Rustenburg deelgeneem. Hy vertel: “Die een ding wat ek nooit sal vergeet nie, is toe my opponent my so hard teen die gesig geskop het dat my oog sommer begin traan het.”
Jackie se liefde vir karate het reeds op 10-jarige ouderdom begin toe ‘n vriend hom nooi om saam te oefen. Hy is gou deur die karategogga gebyt, en vandag is hy ‘n trotse draer van ‘n derde dan swart gordel.
“Die dissipline van die sport het my dadelik aangetrek. Toe ek sien hoe gelukkig die ander karateka’s is, wou ek ook deel wees. My vriend, wat toe al ‘n bruin gordel gehad het, het my aangemoedig en gesê ek kan dit ook regkry.”
Vir Jackie was die internasionale oorwinning op sy ouderdom besonder spesiaal.
“Karate verg harde werk, en ‘n wen wys dat al die moeite nie verniet was nie. Daar is nie veel verskil tussen karate toe ek jonger was en nou nie, behalwe dat ons bewegings stadiger is en ons nie meer so hoog kan skop nie. Die troos is dat jou opponent ook stadiger is. Jy moet steeds slim wees, jy kan nie net blindelings inspring en skop of slaan soos jy wil nie.”
Sy daaglikse roetine is ‘n bewys van sy toewyding: soggens in die gimnasium, saans in die dojo. Gesonde eetgewoontes, fiksheid en ‘n positiewe ingesteldheid hou hom sterk.
“Karate leer jou nie net veg nie, maar ook lewenslesse soos om kalm te bly, nie kwaad te word nie en om na ander te luister. Dit bou jou karakter, leer jou opregtheid en dwing jou om deursettingsvermoë te ontwikkel. Jy oefen dieselfde kata oor en oor totdat jy dit reg kry.”
Jackie sê sy motivering om elke dag te oefen is eenvoudig: hy wil sy gewig en gesondheid behou, en ‘n goeie rolmodel vir die jonger geslag wees.
“My droom is om my vierde dan te kry voor ek 80 is, en steeds aan kompetisies deel te neem. Ek wil wys dat dit moontlik is en ‘n inspirasie vir die kinders wees.”




