Mokopane-besighede rol balle in besigheidsliga
Die doel van die besigheidsliga is om ondernemings die kans te gee om mekaar beter te leer ken en mekaar uit te daag.
MOKOPANE – Die laaste gedeelte van die gewilde jaarlikse besigheidsliga van die Potgietersrus Rolbalklub het verlede Woensdag afgeskop met altesaam 28 spanne van 112 spelers wat die volgende drie weke elke Woensdagaand gaan balle rol.
Dié spanne gaan probeer om genoeg punte bymekaar te maak om aan die einde van die liga met ‘n wisseltrofee, as kampioene weg te stap.
Die finale wedstryd vind 29 Oktober plaas, waar die wenners van die tweede besigheidsliga van die jaar aangekondig gaan word.
Die doel van die besigheidsliga is om ondernemings die kans te gee om mekaar beter te leer ken en mekaar uit te daag.
Die geleentheid is deel van die klub se geldinsamelingsprojek om die publiek bewus te maak van die klub se mooi bane, toegeruste kombuis en saal wat beskikbaar is om te huur vir enige geleentheid.










