Local sport

Eet, slaap en leef rugby vir Mokopane-broers

Die Oosthuizenbroers vertel dat hulle van jongs af 'n liefde vir rugby ontwikkel het en dat hulle talente van die Here af kom.

MOKOPANE – Die Oosthuizenbroers van Hoërskool Piet Potgieter eet, slaap en leef rugby, en is albei ná afloop van die Bokkieweek wat vroeër vanjaar plaasgevind het, gekies om in nasionale spanne deel te neem.

Sias Oosthuizen, tans ‘n gr. 10-leerder en sy broer Dawid in gr. 8, het onderskeidelik in die o/16-Presidendentespan en die o/14-Duikerspan in Namibië uitgeblink.

Hulle vertel dat hulle van jongs af ‘n liefde vir rugby ontwikkel het en dat hulle talente van die Here af kom.

Hul ouers, familie en vriende is hulle grootste ondersteuners, en vir albei is hul pa, Sias, die grootste rolmodel.

Vir ouboet Sias is Pierre Spies ook ‘n groot inspirasie “omdat hy hardwerkend en ‘n goeie rugbyspeler was.”

Dawid en Sias Oosthuizen.

Benewens rugby blink Sias ook uit in atletiek en gholf, terwyl Dawid deelneem aan atletiek, landloop en Laser Run. Met al die sportsoorte wat die twee broers beoefen, maak hulle ‘n bewuste poging om sport en akademie te balanseer.

“Hoe ek my sport en akademie balanseer is om te weet wanneer ek wat moet doen. Daar is tyd vir akademie en tyd vir sport. Ek maak seker ek kom by beide uit,” sê Dawid.

Dawid in aksie.

 

Die broers vertel dat elke sportsoort vir hulle iets belangrik leer.

Atletiek leer deursettingsvermoë, terwyl rugby spanwerk, braafheid, dissipline en vriendskap bou.

Dawid se grootste prestasie tot dusver was om vir twee jaar agtereenvolgens die SA-Bokkiespan te haal, asook om die agterspeler van die jaar-toekenning te ontvang. Vir Sias was sy hoogtepunte om die Bokkieweek se nasionale span te haal, die voorreg om saam met die Kudu-span na Georgia te toer, en om die rugbyspeler én agterspeler van die jaar-toekennings by die skool te ontvang.

Sias in aksie

Hul raad aan jonger spelers wat ook ‘n verskeidenheid sportsoorte wil aanpak, is om ‘n duidelike rede te hê: “Weet hoekom jy dit wil doen en wat jou motiveer voordat jy dit aanpak. Vertrou op God, moet nie opgee nie en moenie jou talente onder die maatemmer wegsteek nie.”

Beide Sias en Dawid se mikpunt is om ná skool steeds topvlakrugby te speel en so lank as moontlik met sport besig te bly.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button