Local sport

Andru (18) trap van Polokwane tot Kaap vir bewusmaking

Andru van Zyl het besluit om die 2 500km tog van Polokwane met ‘n roete tot in die Kaap op ‘n fiets aan te pak om bewusmaking regdeur die land te skep.

POLOKWANE – ‘Never Stop!’

Só lees die foto op Andru van Zyl (18) se WhatsApp-profiel, ‘n in-die-kol beskrywing vir hierdie jongman.

Toe Andru hoor van ‘n gr. 8-skoolvriend wat kankerbehandeling moes kry, het hy besluit om sy tyd in Desember op te offer om bewusmaking daarvoor te skep.

Andru was in die laerskool by Oosskool verkies tot hoofseun en het vanjaar voorgestap as hoofseun by Afrikaans Hoër Seunsskool in Pretoria.

Dit is hier waar hy, terwyl hy in die gr. 8-koshuis gewoon het, die gr. 8-leerder leer ken het.

“Wanneer mense vra waarom ek hierdie projek aanpak, is my teenvraag ‘waarom nie?’. Die situasie het my erg geraak en geïnspireer om tot dade oor te gaan.”

Andru het besluit om die 2 500km tog van Polokwane met ‘n roete tot in die Kaap op ‘n fiets aan te pak om bewusmaking regdeur die land te skep.

Waar sy eweknieë in hierdie tyd met matriekvakansie gaan, is hy gereed om te sweet.

Sy reis begin op 16 Desember en hy beplan om sommer die land ook te verken terwyl hy ry.

Hy erken dat hy van plan was om ‘n tent op te slaan daar waar hy moet slaap, maar intussen het Suid-Afrika se mense besluit om hom langs die pad te huisves en kos te gee.

“Daar is baie mense wat gesê het hulle sal ‘n deel van die pad saam met my ry, en ek is ewig dankbaar vir almal se goedgesindheid.”

Afhangende hoe ver die dorpe op sy roete uitmekaar is, beplan hy om tussen vyf en 10 ure per dag te ry. Die datum waarop hy besluit het om die reis te voltooi is 22 Januarie.

“Ek beplan om op Kersdag en Nuwejaarsdag ‘n goeie klomp ure op die fiets te spandeer. Ek glo my ouers sal daardie tyd vir ‘n paar dae by my aansluit. Ek sal teen Kersdag in Clarence wees en Nuwejaar by Colesberg.”

Andru sê hy ry met sy pa se fiets aangesien dit die een in die huis was, wat die beste vir dié doel sou werk.

“Die fiets het ‘n sagte plek in my pa se hart aangesien dit sy vervoer was toe hy studeer het. Die fiets is betroubaar en het ‘n staalraam. Ek sien baie uit na die samehorigheid van die mense wat ek langs die pad gaan ontmoet.”

Die aanvanklike bedrag wat Andru wou insamel is lankal oorskry en hy sê dat daar nou nie ‘n limiet is nie.

“My mikpunt is soveel as moontlik, as dit R1m is, sal dit ideaal wees.”

Andru voorsien nie probleme nie, maar is oopkop genoeg om te besef daar kan uitdagings wees. Volgens hom is dit nie ‘n probleem nie, maar ‘n hobbel in die pad.

Dinge soos die weer, sy gesondheid en ‘n fiets wat probleme gee, is net hobbels wat hom nie omver gaan gooi nie.

“Ek het altyd gedink ek is te jonk om ‘n groot verskil te maak. Ek het ook besef dat niemand alleen ‘n reuse verskil kan maak nie. Vir ander jongmense wil ek graag sê koop in by jou gemeenskap en maak saam met hulle ‘n verskil.”

Oor wat hy gaan doen as hy in die Kaap aankom, is sy antwoord, “Ek gaan nogals tam wees, so ek gaan plat op my boude sit en vir die see kyk. Ek ry ook nie weer op die fiets terug Polokwane toe nie, aangesien my tyd dit nie toelaat nie. Ek sal seker terug vlieg.”

Andru se ma, Anerett, sê hulle is baie trots op Andru.

“Aanvanklik het ek teen die idee geskop weens die veiligheidsrisiko, maar nadat ons gesels het en sy planne verfyn het, is ons as ouers nou ook opgewonde saam met hom. Hy is ‘n gedrewe jongman wat nie terugstaan vir ‘n uitdaging nie en ons weet hierdie projek sal suksesvol wees. Ons harte bars van trots. Ons wil ook dankie sê vir almal wat hom langs die pad gaan bystaan en ondersteun.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button