Limpopo se Ruan Ferns op pad na Ghana vir SA armdruk
Ruan Ferns van Limpopo het vinnig uitgeblink in armdruk en verteenwoordig nou Suid-Afrika by ’n internasionale kompetisie in Ghana.
POLOKWANE – Op skool was Ruan Ferns (20) ‘n doodgewone leerder wat nie baie aandag aan gymnasium-toe-gaan of sport gegee het nie.
Dit het eers ná skool verander toe hy ‘n gereelde besoeker aan die gimnasium geword het.
“Ek het ná skool daar aangesluit en na ‘n ruk het my oom, Danie Fourie van Lynx Arm Wrestling Club, vir my gesê ek moet dit probeer. Teen die einde van die jaar sal ek al twee jaar lank armdruk as sport beoefen,” vertel hy.
Eerste deurbraak in armdruk
In 2025 het Ruan sy eerste nasionale kompetisie bygewoon, waar hy tweede in sy afdeling geëindig het.
Sedertdien het hy meer as 20 medaljes verower.
Daaglikse toewyding en veelvuldige sporte
Hy oefen elke Woensdag armdruk en gaan daagliks gimnasium toe.
Buiten dit het hy onlangs by Noordelikes Rugbyklub aangesluit, speel gholf en neem deel aan MX-fietsry.
Hy doen ook kragoptel en het verlede jaar Suid-Afrikaanse kleure daarin verwerf, asook vier SA-rekords opgestel.
SA-verteenwoordiging in Ghana
Atlete wat verlede jaar podiumplekke behaal het, is gekies om Suid-Afrika van 29 April tot 3 Mei in Ghana te verteenwoordig, en Ruan is die enigste deelnemer uit Limpopo.
Uitdagings voor kompetisie
Volgens hom is gewigsbeheer een van die grootste uitdagings voor ‘n kompetisie.
“Jy wil eerder ligter wees as jou klas, want die swaarder klasse is sterker. Jy moet ook jou opponente bestudeer en jou stamina op die tafel oefen,” sê hy.
Voorbereiding en fokus
Hy volg nie ‘n spesifieke dieet nie, maar fokus op voorbereiding en tegniek.
Die druk voor kompetisies is egter groot.
“Jy dink heeltyd aan jou opponent. Ek luister soms musiek, maar praat ook met myself om my te motiveer.”
Mentale sterkte
Hoewel hy nog nooit wou opgee nie, erken hy dat negatiewe gedagtes soms insluip, veral ná ‘n verlies of wanneer hy pyn ervaar.
“Dan dink ek aan my doelwitte en druk deur.”
Wanpersepsies oor armdruk
Ruan sê ‘n algemene wanpersepsie is dat armdruk aggressief is.
“Mense verstaan nie altyd die tegniek nie. As jy dit verkeerd doen, kan jy seerkry, maar met die regte tegniek is dit veilig.”
Hy is vol vertroue oor sy deelname in Ghana.
“Ek werk hard aan my voorbereiding en glo ek kan ’n podiumplek behaal.”




