School sportSport

Andri wil ander van jukskei leer

In die agt jaar wat Andri Marais (17) jukskei speel, is sy al sewe keer vir die Limpopo junior jukskeispan gekies.

POLOKWANE – In die agt jaar wat Andri Marais (17) jukskei speel, is sy al sewe keer vir die Limpopo junior jukskeispan gekies.

Andri se prestasies hou egter nie daar op nie. Sy het twee jaar vir die Limpopo o/30-seniorspan gespeel, het vier jaar lank in beide die streek en nasionale spanne gespeel en is ook gekies vir beide die Top 5-skolespan en die Top 5 o/23-span.

Verlede jaar is Andri aangewys as die internasionale speler van die wedstryd in die o/23-wedstryd tussen Suid-Afrika en Namibië in Desember.

Andri is baie beskeie wanneer dit by haar prestasies kom. “Ek is lief vir my sport en trots op die prestasies wat ek al behaal het, maar ek glo nie in spog nie,” sê sy.

Sy vertel dat sy baie hard moet werk om op die sportveld te presteer terwyl sy aka-demies ook nie laat slaplê nie. Soms moet sy ook opofferings maak. So sal sy haar skool se Valentynsdag-sokkie misloop omdat dit ‘n jukskei-keuringsnaweek is.

Andri wil graag eendag ‘n onderwyser word. Sy sê ekonomiese bestuurswetenskappe is haar gunsteling vak en sy wil seker maak dat haar leerders eendag blootgestel word aan jukskei.

Haar liefde vir jukskei het begin toe sy agt jaar gelede haar oom by ‘n wedstryd gaan ondersteun het. Daar het die gogga haar gebyt. “Ek is net spyt ek het nie vroeër begin jukskei speel nie,” sê sy.

Andri kan nie aan ander sportsoorte deelneem nie omdat sy aan Osteogenesis Imperfecta ly. Hierdie sindroom, wat ook bekendstaan as brosbeensiekte, is ‘n aangebore beensteurnis wat gekenmerk word deur bros bene wat maklik breek.

Sy glo dat haar betrokkenheid by jukskei ook haar skoolwerk positief beïnvloed.

“Teen die middel van die jaar raak die skoolwerk moeiliker en die toetse meer. Dan help dit wanneer mens meer aktief is en oefening inkry,” sê sy.

Haar raad aan ander junior-spelers is om aan die begin van die jaar ekstra hard te werk aan hul jukskeiloopbane, sodat hulle later in die jaar meer aandag kan gee aan skoolwerk.

Hierdie top-speler se grootste wens is om meer blootstelling vir jukskei te kry, veral onder jonger mense.

Sy stel voor dat skole jukskei speel op pretdae waar onderwysers en leerders teen mekaar kan meeding.

Sy glo dit sal help om die sport se gewildheid ‘n hupstoot te gee.

Andri vertel dat sy verlede jaar ‘n groot teleurstelling moes verwerk toe sy gekies is vir die Suid-Afrikaanse jukskeispan wat jaarliks na die VS toer om daar aan toernooie deel te neem. Sy kon nie saamgaan nie, omdat sy nie in skooltyd kon gaan toer nie.

“Dit was baie hartseer, maar ek sien uit na volgende jaar. Dan is ek nie meer in die skool nie en dan kan ek saamgaan,” sê sy.

Andri glo haar familie se ondersteuning speel ‘n groot rol in haar sukses en sy sou nooit soveel prestasies kon behaal hiersonder nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button