School sportSport

Heystek-sibbe ‘n gedugte span op die atletiekbaan

Jan (17) en Ilanie (15) Heystek is 'n gedugte broer en suster-span op die atletiekveld.

POLOKWANE – Jan (17) en Ilanie (15) Heystek is ‘n gedugte broer en suster-span op die atletiekveld.

Review het met hierdie twee leerders van Curro Heuwelkruin Hoërskool gaan gesels oor hulle atletiekprestasies en oefengewoontes.

Die Heystek-sibbe het onlangs aan ‘n vriendskaplike atletiekbyeenkoms by die Hoërskool Pietersburg deelgeneem verlede Vrydag en het albei uitstekende resultate behaal.

Ilanie is as senior Victrix Ludorum van hierdie byeenkoms aangewys.

Jan se prestasies:

• 100 m vir seuns o/18 in 10,69 sekondes;

• 200 m vir seuns o/18 in 22,2 sekondes, en

• 400 m vir seuns o/18 in n 52,8 sekondes.

Ilanie se prestasies:

• 100 m hekkies vir meisies o/16 in 15,1 sekondes;

• 200 m vir meisies o/16 in 25,1 sekondes;

• 400 m vir meisies o/16 in 61,4 sekondes, en

• hoogspring vir meisies o/16 met ‘n hoogte van 1,6 m.

Jan het vertel dat die 100 m sy gunsteling-item is. “Dis nie so ver wat ek moet hardloop nie. Die 400 m is die moeilikste, want jy moet van die begin af alles insit en daardie spoed behou,” het hy gesê.

Vir Ilani is die 200 m naelloop haar gunsteling-item. “Ek hou nie baie van hekkies nie, want hulle is in my pad en die hoogspringlat maak seer as jy hom afspring,” het sy verduidelik. Ook vir haar is die 400 m die moeilikste item.

Beide die Heysteks het reeds in die laerskool aan atletiek begin deelneem.

“Atletiek het hierdie jaar eers vir my begin lekker word. Mens pluk nou die vrugte van al die harde werk,” het Jan gesê. Ilanie het verduidelik dat sy reeds atletiek in gr. 6 begin geniet het omdat sy toe reeds begin presteer het.

Die twee atlete oefen getrou 90 tot 120 minute per dag en volg Danie Roux se oefenprogram. “Ons volg nie enige spesifieke dieet nie, maar ons eet baie groente, pasta en kos wat energie gee,” het Jan vertel.

Ilanie het verduidelik dat hulle nie gaskoeldrank mag drink nie, maar moet hou by water, tee en energiedrankies.

Hulle het vertel dat beide hul ouers ook goeie atlete was op skool.

Ilanie wil in haar gr. 12-jaar aan die junior Olimpiese Spele deelneem en Jan droom daarvan om te kwalifiseer vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe.

Buiten atletiek neem Jan aan rugby en hokkie en Ilanie aan netbal, hokkie, swem en korfbal deel.

Die twee is nie skaam om te erken dat daar ‘n baie gesonde kompetisiegees tussen hulle heers nie. “Jan wil altyd voor wees. Ek was altyd vinniger as hy, maar nou nie meer nie,” het Ilanie vertel.

Jan het bygevoeg dat hy vooruit hardloop sodat sy sussie vinniger kan hardloop. “My boetie ondersteun my baie. Hy loop altyd saam met my om op te warm en hy praat my baie moed in.

“Sy stem en Claudi van Niekerk, my vriendin, se stemme is die enigste stemme wat ek hoor wanneer ek hardloop,” het Ilanie vertel.

“Ilanie ondersteun my ook geweldig,” het Jan vertel. “Ons ondersteun mekaar die meeste, dan ondersteun Oom Danie, ons afrigter, ons en dan ons ouers.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button