School sportSport

PHS 33 000 maal tops

Hoërskool Pietersburg (PHS) se T20-krieketspan het Saterdag met gemak in die halfeind-ronde teen die ontwikkelingspan van Bochum Krieketontwikkeling gewen

POLOKWANE – Hoërskool Pietersburg (PHS) se T20-krieketspan het Saterdag met gemak in die halfeind-ronde teen die ontwikkelingspan van Bochum Krieketontwikkeling gewen. Hulle het hiermee deurgedring na die eindronde van die T20 Coca-Cola Skole-toernooi.

Beide halfeindrondes sowel as die eindronde van dié toernooi is by die Polokwane Krieketklub beslis.

PHS het in die eindronde teen die span van Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen te staan gekom.

Ben Vorster is ook maklik deur na die eindronde nadat hulle met die span van Malegale Krieketontwikkeling afgereken het.

Die tafel was gedek vir ‘n baie opwindende wedstryd wat op die Polokwane B-veld gespeel is.

Ben Vorster het besluit om eerste te kolf. PHS se boulers was op ‘n verwoestingstog en het korte mette van Ben Vorster se kolwers gemaak.

Ben Vorster het 105 vir agt in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken.

Phillip Bester het 38 lopies in 44 balle aangeteken vir Ben Vorster. Bester se grootste ondersteuning het gekom van Michael Janse van Rensburg wat ‘n blitsige 21 lopies van slegs 14 balle gemoker het.

Ferdi Coetzer en Jaco Potgieter het die kollig gesteel onder PHS se boulers.

Coetzer het drie paaltjies geneem en 27 lopies afgestaan in vier boulbeurte, terwyl Potgieter twee paaltjies in vyf boulbeurte laat kantel het.

PHS se kolwers het teruggekap en het 106 lopies vir die verlies van vyf paaltjies na net 19,1 beurte aangeteken. Hulle wen dié wedstryd met vyf balle.

Morné Venter het 38 lopies, nie uit nie, aangeteken en Wilrico Gadney het 21 lopies aangeteken.

PHS het weggestap met ‘n trofee en die prysgeld van R33 000.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button