Kelners vir hul nuwe vloer
Gymstars gimnaste het op Dinsdag, 18 Februarie hul ouers en vriende by die Amarillo Spur Mall of the North as kelners bedien.
POLOKWANE – Gymstars gimnaste het op Dinsdag, 18 Februarie hul ouers en vriende by die Amarillo Spur Mall of the North as kelners bedien.
Opgedeel in groepe, met die hulp van ervare Spur kelners, het die gimnaste bestellings geneem, kos aangedra en die rekeninge uitgewerk.
“Ons het baie klein gimnassies en selfs die van sewe-jaar-oud kon deelneem in die pret; die kelners was regtig baie oulik en geduldig met hulle,” vertel Lelanie Logtenberg, die eienaar van Gymstars.
‘n Persentasie van die wins asook die fooitjies van die aand is aan Gymstars gegee, en dit het gehelp om te betaal aan ‘n nuwe springvloer vir die klub.
“Ons wil graag die eienaars, bestuurders en personeel van die Spur by Mall of the North bedank vir hul geduld en vriendelike diens teenoor elkeen van die gaste en gimnaste, ook vir almal van die uitgebreide Gymstars-familie vir hul ondersteuning. Ons sien uit na die jaar wat voorlê en die hoogtes wat ons gaan bereik,” het Logtenberg gesê.



