Rinus is sy skool se voorste armdrukker
Rinus Gouws (17) is die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se voorste armdrukker.
POLOKWANE – Rinus Gouws (17) is die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se voorste armdrukker.
Hy het hierdie titel dubbel en dwars verdien nadat hy uitstekende resultate behaal het tydens die Suid-Afrikaanse Armdrukkompetisie wat in Polokwane gehou is op 29 Maart.
Rinus het in die junior-afdeling deelgeneem vir seuns o/85kg en het eerste plekke gewen vir beide die linkerarm- en regterarmafdelings.
Hy het ook deelgeneem in die senior afdeling vir mans o/100kg en ‘n derde plek met sy linkerarm losgedruk asook ‘n tweede plek met sy regterarm. Volgens Rinus het die armdrukgogga hom ses maande gelede gebyt nadat ‘n goeie vriend hom aan dié sportsoort bekendgestel het.
Hy behoort aan die Lynx Arm Wrestling Club in Polokwane en vertel dat dit vir hom vreeslik lekker is om te oefen. “Ons oefen elke Maandag en Woensdag vir so uur en ‘n half,” vertel hy.
Die moeilikste deel van die sport vir hom is kompetisietye wanneer hy sy opponent sien en sien die ou lyk baie sterker as hy. “Maar dan is dit soveel lekkerder as jy hom klop.”
Sy raad aan ander jongmense wat wil armdruk is om fiks te bly.
“Jou longkapasiteit moet nogal groot wees en jou arms sterk. Dan moet jy ook nog die tegnieke aanleer.”
Die ander sportsoorte waaraan Rinus deelneem is rugby en swem, maar hy vertel dat armdruk sy gunsteling sportsoort is.



