HPP-atlete slyp al hulle tande
Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se atlete het verlede Vrydag tydens 'n vriendskaplike byeenkoms kragte teen Hoërskool Nylstroom in Modimolle gemeet
Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se atlete het verlede Vrydag tydens ‘n vriendskaplike byeenkoms kragte teen Hoërskool Nylstroom in Modimolle gemeet waar hulle gewys het hulle is die katjies van die baan.
Die atlete het alles uitgehaal en goeie tye opgestel om aan die einde van die aand as wenners uit die stryd te tree.
HPP bied op 28 Februarie die 52ste Bosveld interhoër aan met sewe skole wat teen mekaar sake gaan uitspook. Die kompetisie is elke jaar straf en sorg vir naelbyt oomblikke.
Piet Pot het verlede jaar die atletiek-en die sangbeker ingepalm en daar word tans hard gewerk om vanjaar weer bo aan die punteleer te eindig en om die atletiekveld gereed te kry vir ‘n skouspel soos min.
‘n Lekkerlees-bylaag sal op 20 Februarie in Bosveld verskyn met die onderskeie skole se topatlete en die skole se boodskappe daarin. HPP nooi die gemeenskap om die groot dag saam met hulle te kom deel.
HPP se top tien atlete van die byeenkoms op Modimolle is:
• Marnus Uys – 100 m, 10,70 sekondes.
• Mirieck Griessel – gewigstoot, 12,16 m.
• Luzaan Taljaard – gewigstoot, 10,95 m.
• Soretha Kruger – werpskyf, 36,06 m.
• Pontsho Ngobeni – 3 000 m, 9,09 minute.
• Sello Nyawene – 3 000 m, 9,23 minute.
• Ashley Coleman – gewigstoot, 10,79 m.
• Peter Tau 1 500 m – 04,15 minute.
• Morgan Makubele – 400 m, 53,10 sekondes.
• Linita Cilliers – gewigstoot, 8,63 m.



