School sportSport

Ademlose afwagting

WANNEER die skote op Saterdag, 28 Februarie, op die atletiekbaan van Hoërskool Piet Potgieter (HPP)klap, gaan die atlete van sewe skole alles insit om die Bosveld Interhoërtrofee op te raap.

MOKOPANE – WANNEER die skote op Saterdag, 28 Februarie, op die atletiekbaan van Hoërskool Piet Potgieter (HPP)klap, gaan die atlete van sewe skole alles insit om die Bosveld Interhoërtrofee op te raap.

Die aanloop na die 52ste Bosveld Interhoër is by al die deelnemende skole in volle gang en daar word nie net op die atletiekbaan en -veld nie, maar ook op die pawiljoene geoefen waar die dirigente en sangers hulle gô uitsing om vanjaar die sang- en geesbeker in te palm.

HPP is die gasheer en nooi die hele gemeenskap om in groot getalle op te trek na die skouspel waar goeie sportmanskap die botoon gaan aanvoer. Dit is groot geleentheid omdat die skool net elke sewe jaar die geleentheid kry om die byeenkoms op eie bodem aan te bied.

Die topatlete van HPP, Hoërskool Hans Strijdom van Mookgophong, Hoërskool Frikkie Meyer van Thabazimbi, Hoërskool Ben Viljoen van Groblersdal, Hoërskool Ellisras van Lephalale, Hoërskool Nylstroom van Modimolle en Hoërskool Warmbad van Bela Bela is slaggereed vir aksie.

Voorbereidings vorder fluks en die personeel, leerders en ouers is volstoom aan die beplan en werk om die geleentheid onvergeetlik te maak. Die afrigters sit sedert verlede jaar als in om te sorg dat die atlete fiks en slaggereed is.

HPP het verlede jaar in ‘n naelbytstryd die prestigde-trofee gewen en ook die sangbeker verower.

“Die bekers gaan net hier by ons bly,” sê Cas Badenhorst, adjunkhoof: sport. Hy is nie min trots op die span se vertoning tot nou waar hulle koning gekraai het in al die byeenkomste waaraan hul vanjaar deelgeneem het.

Die interhoër is ook ‘n laaste vir HPP se immergroen skoolhoof, Jas Hansen, wat einde vanjaar die leisels neerlê na ‘n lang loopbaan in die onderwys.

Nog ‘n groot gees en bekende op die atletiekbaan van die skool, Jan Kruger, tree ook af.

Aanstaande week verskyn ‘n interhoër-bylaag in Bosveld met die dag se program en nuus oor die deelnemende skole.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button