Protea-netbal kuier by Curro
Verlede Vrydag het Protea-netbalspeler Erin Burger en Suid-Afrikaanse netbalskeidsregter Anso Kemp 'n netbal-oefenkamp by Curro Heuwelkruin aangebied.
POLOKWANE – Verlede Vrydag het Protea-netbalspeler Erin Burger en Suid-Afrikaanse netbalskeidsregter Anso Kemp ‘n netbal-oefenkamp by Curro Heuwelkruin aangebied.
Deur middel van ‘n reeks oefeninge het die twee balvaardighede en die belangrikheid van voetwerk aan die spelers verduidelik.
Een van hierdie oefeninge was ‘n vriendelike kompetisie waarin die spelers in spanne verdeel is en die bal onderdeur hul bene aan hul spanmaats moes uitgee terwyl hulle oor die baan beweeg het. Die span wat eerste klaargemaak het, het die “wedstryd” gewen.
“Ons is regtig baie dankbaar dat Erin en Anso bereid was om waardevolle netbalvaardighede vir ons leerders te kom leer,” het Elizna Spies die laerskoolnetbalorganiseerder van Curro Heuwelkruin, gesê.



































