Editor's choiceSchool sportSport

Meisie met rugbyfluit om haar fyne nek

Deesdae kyk mense twee keer wanneer 'n spesifieke rugby-lynregter langs die veld op en af hardloop, want hierdie lynregter is 'n pragtige meisie.

POLOKWANE – Deesdae kyk mense twee keer wanneer ‘n spesifieke rugby-lynregter langs die veld op en af hardloop, want hierdie lynregter is ‘n pragtige meisie.

Johané Schütte is in gr. 12 in Hoërskool Pietersburg en ‘n gekwalifiseerde rugbyskeidsregter.

“Ek is ‘n vlak een gekwalifiseerde skeidsregter,” vertel Johané trots. “Dit beteken ek doen nou net assesserings en speel lynregter.”
Johané vertel sy is sportmal en ‘n groot aanhanger van rugby.

“Toe die skeidsregtertoets verlede jaar op my pad gekom het, het my pa my aangemoedig om die toets te skryf. Daar is ‘n groot verskil tussen om rugby te kyk en om skeidsregter te wees,” vertel sy.
Johané se ma, Johanna, en haar twee jonger susters is landloopatlete en behalwe vir rugby, krieket en swem, hou Johané ook van atletiek.

“Baie mense dink dit sal snaaks voel vir ‘n vrou of meisie om tussen die mans te hardloop, maar dit voel nie snaaks vir my nie. Die mans by die rugby-unie is baie vriendelik.
“Soos wat vroue-rugby in Suid-Afrika groei, sal hulle my meer en meer daar gebruik.”

Johané vertel dat haar vriende haar baie ondersteun, veral dié wat ook van sport hou.
“Die maklikste van skeidsregter wees is dat ek elke oomblik geniet. As jy fiks is, is hierdie werk maklik.
“Die moeilikste is om dit wat jy geleer het toe te pas, veral omdat ek nooit self rugby gespeel het nie.”

Volgende jaar beplan Johané om onderwys te studeer deur afstandsonderrig. Sy wil graag wiskunde en wetenskap vir hoërskoolleerders aanbied.

In haar vrye tyd lees sy baie en kyk na sportuitsendings op TV. Sy hou daarvan om na musiek te luister, tyd saam met haar familie deur te bring en naaldwerk te doen.

Sy neem tans net deel aan atletiek en landloop want sy voel spansport meng in met haar individuele sport.
“Ek dink ook nie ek is baie sterk in spansport nie. Ek sal nooit self rugby speel nie. Ek moes kleintyd al begin het om nou te kan speel. Die gaping is nou te groot om in te haal.”

Johané beplan om volgende jaar haar vlak twee skeidsregterkursus te voltooi. Dit sal beteken dat sy vir eerstespanne en klubrugby sal kan blaas.

Die kursus bestaan uit ‘n teoretiese toets asook ‘n fiksheidstoets. Die praktiese komponent voltooi die kursusgangers op die veld tydens rugbywedstryde.
“Ek is bereid om hard te werk om my akademie, sport en die skeidsregtersaspek van my lewe op ‘n hoë vlak te hou,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button