Kookwater! HS Oos-Moot stap met die louere weg
DIE rugbyspelers van 28 skole landwyd het verlede week hulle gô behoorlik uitgespeel tydens die jaarlikse Mauritz Hansen-Rugbyweek wat by Hoërskool Hans Strijdom op Mookgophong gehou is.
Foto: Verskaf
MOKOPANE – DIE rugbyspelers van 28 skole landwyd het verlede week hulle gô behoorlik uitgespeel tydens die jaarlikse Mauritz Hansen-Rugbyweek wat by Hoërskool Hans Strijdom op Mookgophong gehou is.
Daar is rugby gespeel, gepraat en gedink tydens die 23ste Hansieweek waartydens spelers, hul afrigters, ouers en toeskouers op Mookgophong toegesak het om deel te wees van die grootste skolerugbyweek in die wêreld.
Hoërskool Hans Strijdom was weereens die perfekte gasheer van hierdie gewilde toernooi wat vernoem is na hul oud-skoolhoof, Mauritz Hansen.
Na tawwe kompetisie was dit die eerstespan van Oos-Moot wat koning gekraai het met 3-0 in ‘n titaniese stryd teen HTS John Vorster in die eindstryd.
Albei skole is van Pretoria. Die speler van die wedstryd was JP Alberts van Oos-Moot.
Oos-Moot se o/16-span het ook in hulle eindstryd geseëvier teen Noord-Kaap met 36-0. Ben Vorster wen die tweedespanfinaal met 13-12 teen Pietersburg Hoërskool.
Al die pad vanaf Kimberley het die o/15-span van Hoërskool Noord-Kaap met HTS John Vorster in die eindstryd afgereken. Die eindtelling was 29-24.
Midstream College van Centurion se o/14-span moes alles uithaal in hul eindstryd teen Hoërskool Randburg om die wedstryd te beklink met 29-24.
Hoërskool Hans Strijdom se spelers het hulself goed gekwyt van hul taak gedurende die week.
Die Hansies se eerste, o/16- en o/15-spanne het twee wedstryde gewen en een verloor.
Altesaam 25 spelers is na die weeklange-toernooi gekies wat in Oktober in Ierland drie wedstryde gaan speel.
Twee van die Hansies se kookwaterspelers, Jacques Pretorius en Pierre Janse van Vuuren is in die toergroep ingesluit.






