School sportSport

Tom Naudé en PHS oudspelers onthou Intervarsity

Ferdie Preller, destydse Skoolhoof van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en 'n paar oudspelers wat aan een van die laaste wedstryde deelgeneem het gesels oor hul herinneringe van die titaniese stryd.

POLOKWANE – Die BB Motor Group Bosveld Intervarsitybeker maak na 12 jaar sy terugkeer op 21 Mei in wat beloof om ‘n dag vol sportaksie en gees te wees.

Ferdie Preller, destydse Skoolhoof van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé

“Daar was ‘n jaarlikse wedstryd tussen Tom Naudé en Hoërskool Pietersburg (PHS), die twee skole was destyds die grootstes in die provinsie. Ek het in 1981 besluit om die wedstryd ‘n amptelike naam te gee. Dit was altyd ‘n baie gewilde en groot wedstryd en die hele stad was in rep en roer daaroor. My opvolger het dit gestop want Tom Naudé se rugbystandaard het afgeneem en ons was dus nie meer kompetisie vir PHS nie. Ek vertrou dat die spanne hierdie jaar hul bes gaan doen om weer die Bosveld Intervarsity ten volle reg te restoureer. Ek sal altyd ‘n getroue Tommie bly en kan nie wag om te sien hoe die spanne teen PHS gaan vaar nie.”

Tom Naudé

Adriaan Bees Beeslaar was kaptein van Tom Naudé se span tydens die Bosveld Intervarsitybeker in 2002. “Dit is moeilik om te beskryf hoe wonderlik die atmosfeer van die Bosveld Intervarsity is. Dit is ‘n groot gebeurtenis en daardie tyd was dit die twee top spanne in die provinsie wat teen mekaar te staan gekom het,” sê Beeslaar.

Kobus de Meyer wat ook vir Tom Naudé rugby gespeel het in 2003, onthou dat dit altyd ‘n intensiewe wedstryd was. “Om voor soveel mense te speel is iets wat mens net nie kan beskryf nie. Ek sien baie uit daarna om weer deel te wees van die Bosveld Intervarsity,” sê hy opgewonde.

PHS

Pierre Coetzee van PHS onthou die vol pawiljoene en die lekker gees wat geheers het tydens die laaste wedstryd in 2004 en dat die ondersteuners reg rondom die veld gesit en die spanne aangemoedig het.

Michael van Tonder wat ook vir PHS uitgedraf het onthou dat die laaste wedstryd uitermatig lekker was. “Jy speel nie net om te wen nie, jy speel vir jou skool. Die hele skool het gekyk en dit was regtig iets spesiaal,” sê Van Tonder.

maretha@nmgroup.co.za

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button