PHS se rugbyspanne steeds bobaas
Hoërskool Pietersburg (PHS) se eersterugbyspan het gewys hoekom hulle een van die sterkste skoolrugbyspanne in die land is toe hulle Saterdag stof in die oë van Hoërskool Pretoria-Noord se span geskop het.
POLOKWANE – Die drie-maal Beeldtrofeekampioene het hulle tuisveld tot volle voordeel gebruik en het die wedstryd 44-0 in hulle guns beklink.
Dié span kraai al sedert hulle o/14-jaar koning tydens die Beeldtrofeekampioenskappe en die trofee het al ‘n ereplek in die skool se trofeëkas.
Dit was egter nie ‘n maklike oorwinning vir die o/15-span nie; Hoërskool Pretoria-Noord het hulle tot op die laaste minute van die wedstryd laat veg vir elke punt.
Ondanks ‘n taai wedstryd het PHS met drie punte gewen, met ‘n eindtal van 20-17.
Albei spanne het gesorg vir uithalerrugby tot die genot van die toeskouers. PHS speel volgende naweek in die kwarteindronde teen Hoërskool Lichtenburg op dié skool se tuisveld.
Die wenners en naaswenners van Mpumalanga, Limpopo, Gauteng, en Noord-Wes sal aan die einde van Augustus die finale wedstryde speel, waarna die algehele wenner die gesogte BeeldTrofee gaan huistoe neem.






