Besige vrou met vele talente
Riana Otto is beslis 'n vrou waarmee rekening gehou moet word. Nie net is sy 'n voorslag-elektrisiën nie, sy is ook betrokke by die Ladies Circle, die 4x4-klub en is ook die musiekkoördineerder by haar kerk.
MAKHADO – Riana Otto is beslis ‘n vrou waarmee rekening gehou moet word. Nie net is sy ‘n voorslag-elektrisiën nie, sy is ook betrokke by die Ladies Circle, die 4×4-klub en is ook die musiekkoördineerder by haar kerk.
Riana is al 13-jaar lank werksaam by PD Elektries, haar ouers, Paul en Rosetta Otto, se besigheid. Sy het eers begin werk as boekhouer, maar die elektriese gogga het haar gebyt en sy het in haar pa se voetspore gevolg.
Sy studeer tans verder aan die CTC College in Witbank om haar as elektrisiën te bekwaam.
Riana is dol daaroor om met kinders te werk, daarom het sy by die Voortrekkers betrokke geraak. “Ek is die adjunk kommandoleier vir administrasie by die Genl. Piet Joubert kommando. Ons is wel op die oomblik ‘n klein kommando, maar ons strewe om meer lede te werf.”
Riana glo dat dit elkeen se plig is om betrokke te raak in die gemeenskap. “My pa se leuse is: Eet uit die gemeenskap maar gee ook terug aan die gemeenskap.”
Dit is ook die rede waarkom Riana besluit het om deel te word van die Ladies Circle. “Ek is nou twee jaar lank betrokke by Ladies Circle waar ek die tesourier is. Ladies Circle doen baie vir liefdadigheid en ek geniet dit vreeslik om geld in te samel vir liefdadigheid.”
Haar liefde vir die natuur het haar aangespoor om betrokke te raak het by die 4×4-klub in Makhado. “Ek is nou al meer as ses jaar betrokke by die 4×4’s. Ek was vir vier jaar die persoonlike verwantskapsoffisier en ek het al hulle bemarking hanteer. Ek moes ongelukkig bedank as gevolg van my studies.”
“Mens moet nie te veel om jou kerfstok plaas nie anders brand jy uit,” sê Riana.
“Die voordele van al die rolle wat ek speel, is dat ek elke dag nuwe mense ontmoet en elke dag met kinders kan werk. Ek verryk myself deur te studeer en sodoende kan ek en my suster, Christa, ons ouers se besigheid eendag oorneem,” sê Riana.
Daar is wel ook nadele daaraan om ‘n besige vrou te wees. “Soms, veral aan die einde van die jaar, is daar so baie dinge wat terselfdertyd gebeur dat ek nie by alles kan uitkom nie. Om te besluit wat jy gaan doen is maklik, maar om te besluit wat jy nie gaan doen nie is ‘n moeilike besluit.”
Riana geniet haar studies. “Die kursus is drie maande lank, maar jy werk op jou eie tempo. Ek het nog elke keer drie tot vier weke voor die tyd klaargekry en my uitslae was onderskeidelik 86% en 82%. Die studies neem baie van my tyd in beslag, maar ek dink dit vat nog meer aan my kinders, want ek sien hulle minder.”
Riana is ‘n enkelouer en haar kinders, Jean Marie (10) en Jareth (13) is haar trots.



