Oud en jonk geniet Suid Jolyt-fees
Inwoners van Polokwane het Saterdag 'n fees soos min ander beleef nadat die ouerkommitee van Laerskool Pietersburg die skool se Suid Jolyt-fees aangebied het as fondsinsamelingsprojek.
POLOKWANE – Inwoners van Polokwane het Saterdag ‘n fees soos min ander beleef nadat die ouerkommitee van Laerskool Pietersburg die skool se Suid Jolyt-fees aangebied het as fondsinsamelingsprojek.
Die dag het afgeskop met ‘n pretdraf waaraan oud en jonk kon deelneem.
‘n Kinder-speelarea met aktiwiteite soos skyfskiet, ‘n springkasteel, miniatuur motortjies, ‘n treintjie en waterloop-balle het die jongspan besig gehou. Vir die volwassenes was daar ‘n tent met top-kunstenaars soos Ben Jordaan en Wikus Vogel.
Mnr. en Mej. Tiener Suid Jolyt en Mej. Suid Jolyt is ook deur die dag aangewys.
“Dit is werklik ‘n voorreg om hier te kan uitstal en my produkte te verkoop,” het Elmari Jacobs, wat houtlaserwerke saam met haar vriendin, Stella Steinberg verkoop het, gesê.
Anton van Wyk was ook in sy noppies met die fees.
“Hier is ‘n lekker atmosfeer en ek wil heeldag hier bly. Ek kan nie wag om Elizma (Theron) in aksie te sien nie.”
Elizma Theron het gaste vermaak met gunsteling treffers soos Lapaside en Casanova. Christa Oosthuizen het vertel dat die optrede wonderlik was en Roelien Smythe het gesê die wind het geensins afbreuk gedoen aan die kwaliteit van Theron se optrede nie.
Heinrich Swartz, voorsitter van die ouerkommitee, en Karen Krüger, lid van die ouerkomitee, het beide gesê dat die fees ‘n groot sukses was. “Ons beplan solank aan volgende jaar se fees,” het Swartz belowe.























