EntertainmentLifestyle

Sterre by Pieties-veldfliek

Suid-Afrika het hulle leer ken as Annelie en Pieter van 7deLaan, en nou is Donnalee Roberts en Ivan Botha besig om diep spore in die Afrikaanse filmbedryf te trap.

POLOKWANE – Suid-Afrika het hulle leer ken as Annelie en Pieter van 7deLaan, en nou is Donnalee Roberts en Ivan Botha besig om diep spore in die Afrikaanse filmbedryf te trap.

Pad na Jou Hart is die eerste film wat dié twee saam geskryf het en deur hul produksiemaatskappy, 17 Film Street Media, vervaardig het.

Vrydag het Donnalee en Ivan Hoërskool Pietersburg besoek en Pad na Jou Hart op die skool se rugbyveld tydens ‘n veldfliek vertoon.

Review het met hulle gesels.

“Ons werk al vir ses jaar saam en aangesien ons beide skryf en kreatief is, was dit net vanselfsprekend om saam aan films te begin werk. Sodoende het ons ook die produksiemaatskappy gestig,” het Ivan vertel.

Donnalee het bygevoeg dat hul albei besigheidsgeörienteerd is en dieselfde visie deel; dit is deel van hul sukses.

Donnalee het vertel dat sy nog altyd wou films maak en dat dit van kleintyd af haar droom was. Vir Ivan was dit nie so nie.

“Ek wou soos menige ander jong seuns krieket en rugby speel, maar ek het probleme met my rug en kon op hoërskool nie aan sport deelneem nie. Sodoende het ek betrokke geraak by drama. As ek nou terug kyk na my kinderlewe, het ek eintlik altyd maar ‘n kamera in die hand gehad en was ek altyd betrokke by drama.”

Ivan het verduidelik hy glo dat beide hy en Donnalee passievol is oor die filmbedryf en dat die sukses van hul saamwerk lê in die visie wat hulle deel.

“Dit is lekker om saam met Donnalee te werk, sy is ongelooflik talentvo. Soos ek is sy verslaaf daaraan om te werk. En sy ruik altyd lekker,” skerts hy.

Donnalee stem saam dat sy en Ivan 100% dieselfde visie deel.

“Ons wil beide storievertellers wees en aangesien ons beide werkverslaafdes en perfeksioniste is, het ons dieselfde dryfkrag in ons werk. Ek glo ook dat Ivan een van die beste filmmakers in Suid-Afrika is. Dit is vir my ‘n voorreg om saam met hom te werk.”

Hulle het vertel dat in die ses jaar wat hulle saamwerk hulle nog nie baklei het nie.

“Ons verskil wel soms, maar as ons verskil moet die ander een mens oortuig van sy standpunt. As Ivan sterk oor ‘n saak voel moet hy my kan oortuig waarom hy so voel,” het Donnalee verduidelik.

“Om te verskil is ‘n goeie ding, dit bring iets uniek na die tafel,” het Ivan bygelas.

Donnalee is tans besig om te skiet aan die film Ballade vir ‘n Enkeling en Ivan en Donnalee se volgende groot projek is Vir Altyd, ‘n film wat op 12 Februarie 2016 vrygestel sal word. Hulle moedig aanhangers aan om die Facebook bladsy van Pad na Jou Hart te volg en so op hoogte te bly van alles wat hulle beplan.

• Laeveld Agrochem het tydens die geeleentheid R2 000 geskenk aan Help-net Fonds, ‘n nie-winsgewende organisasie waarvan Ivan en Donnalee die ambassadeurs is.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button