EntertainmentLifestyle

Hierdie enkelkajuitbakkie is ‘n voertuig met fleur

MAHINDRA Suid-Afrika het 'n nuwe weergawe van sy gewilde Genio-enkelkajuitbakkie bekend gestel.

MAHINDRA Suid-Afrika het ‘n nuwe weergawe van sy gewilde Genio-enkelkajuitbakkie bekend gestel. Die enkelkajuit-Genio Plus sluit hom by die bestaande reeks Genio-enkelkajuit en –dubbelkajuitbakkies aan, maar bied ‘n uitgebreide lys standaardkenmerke wat hom selfs meer aantreklik maak.

Die Genio Plus is gegrond op die betroubare, geharde Genio-enkelkajuitbakkie, wat hom reeds as ‘n ware werkesel bewys het.

Dus bied die Plus dieselfde vaartbelynde kajuitontwerp, gerieflike en goed toegeruste binneruim, groot riffelvloer-laairuim, en ‘n vragdravermoë van meer as ‘n 1 000kg.

Die Genio Plus se reeds breedvoerige kenmerke word egter nog verder uitgebrei met die toevoeging van ‘n bykomende toebehore-pakket wat insluit:

• Voorste bosstaaf

• Agterbuffer

• Systawe

• Rolstaaf direk agter die kajuit

• Tweede rolstaaf aan die agerkant van die laaibak.

Al die toebehore word deur LA Sport verskaf.

Daarbenewens word die Genio Plus se laaibak met ‘n rubberlaag verseël, terwyl die bakkie ook met aantreklike allooiwiele toegerus is.

Die Genio Plus se onafhanklike, dubbele mikvering voor, gekoppel aan bladvere agter, bied ‘n optimale kombinasie van passasiermotor-gerigte ritgehalte en vragdravermoë.

Die ruim kajuit laat ‘n mens meer aan ‘n motor as ‘n bakkie dink. Die twee individuele sitplekke is met gerieflike, duursame doekstofbekleedsel oorgetrek, terwyl die aantreklike instrumentepaneel met ‘n volledige stel instrumente toegerus is.

Die wyserinstrumente het wit gesigte en is ergonomies gerangskik in ‘n instrumentehuls wat reg voor die bestuurder geplaas is, en duidelik deur die stuurwielraam sigbaar is. Die middelste konsole maak vir twee bekerhouers voorsiening, terwyl ‘n syferhorlosie sentraal net bo die luginlate gemonteer is.

Die middelste gedeelte van die instrumentepaneel bied ‘n tuiste aan ‘n dubbel-DIN-grootte klankstelsel wat ‘n FM Stereo-instemmer, CD-speler, SD-datakaartleser en USB-sok vir datastokkies insluit. Die stelsel is ook met MP3-musiekleêrs versoenbaar.

Die Genio Plus se uitvoerige lys standaardtoerusting sluit onder meer in:

• Elektries beheerde kantruite en buitespieëls

• Misligte

• Lugversorging

• Sentrale sluiting

• Kragstuur

• ABS-sluitweerremme.

Die Genio Plus word deur Mahindra se mHawk-turbodieselenjin van 2,2 liter aangedryf.

Die viersilinder-eenheid se maksimum-kraglewering is 88kW teen 4 000rpm, terwyl sy wringkragpiek van 290Nm reeds teen 1 800rpm beskikbaar is en tot by 2 600rpm gehandhaaf kan word.

‘n Seepgladde vyfgang-handratkas dra die krag na die agterwiele oor.

Die Genio Plus se brandstofverbruik is ‘n skaflike 7,9 liter per 100km, wat ‘n reikafstand van meer as 900km aandui, danksy die bakkie se brandstoftenk van 74 liter. Op die oop pad daal die verbruik tot net 7,1 liter per 100km. Die CO2-uitlaatgasvlak beloop 210g per km.

Die Mahindra Genio Plus is nou beskikbaar teen ‘n kleinhandelprys van R209 995.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button