Welstand van kinders is ouers, gemeenskap se taak
In die lig van Kinderbeskermingsweek wat landwyd van 27 Mei tot 3 Junie plaasvind, is die SAVF Polokwane se kinder- en gesinsorg-afdeling tans met ‘n bewusmakingsveldtog besig. Volgens Sonja White, SAVF Polokwane kinder- en gesinsorgdienste maatskaplike werker sluit kindermishandeling fisiese-, seksuele-, en emosionele mishandeling sowel as verwaarlosing in. Aanduidings dat kinders verwaarloos word, sluit onder …

In die lig van Kinderbeskermingsweek wat landwyd van 27 Mei tot 3 Junie plaasvind, is die SAVF Polokwane se kinder- en gesinsorg-afdeling tans met ‘n bewusmakingsveldtog besig.
Volgens Sonja White, SAVF Polokwane kinder- en gesinsorgdienste maatskaplike werker sluit kindermishandeling fisiese-, seksuele-, en emosionele mishandeling sowel as verwaarlosing in.
Aanduidings dat kinders verwaarloos word, sluit onder meer die volgende in:
Fisiese mishandeling
Beserings sonder aanvaarbare verklaring, swak konsentrasie, hiperaktiwiteit, vrees in die teenwoordigheid van ‘n volwassene, ongemak met fisiese kontak, aandagsoekend, destruktief en agressiwiteit.
Seksuele mishandeling
Depressie, kind isoleer hom/haarself, ouderdomsontoepaslike gedrag, agressie, slaapprobleme en persoonlikheidsverandering in.
Emosionele mishandeling
Negatiewe selfspraak, angstige gedrag soos naelsbyt, ontwikkelingsagterstande op verskeie vlakke, ontoepaslik agressiewe gedrag, negatiewe selfspraak en baie lae selfbeeld.
Verwaarlosing
‘n Ouer of versorger voorsien nie mediese sorg vir hul kind nie, klere is te klein/groot/vuil, beserings en siektes wat nie behandel word nie, swak higiëne, gereelde skoolafwesigheid, onvoldoende voeding of kinders wat honger ly, immuniserings wat nie op datum is nie, ontwikkelingsagterstande op all vlakke en kinders wat sonder toesig gelaat word en in dié tyd byvoorbeeld gif in die hande kry en drink.
Jy kan help
White meen die welstand van kinders is nie net die taak van ouers nie, maar ook gemeenskapslede.
“Raak betrokke en meld die aangeleentheid of jou vermoede by ‘n welsynsorganisasie aan wat kan help. Jy kan help deur eerstens te luister as ‘n kind inligting of onthullings met jou deel. Die heel belangrikste is om te luister in ‘n veilige omgewing. Vra vier vrae indien die kind dit nie reeds in sy vryvertelling beantwoord het nie – wat het gebeur, wie het dit gedoen, waar en wanneer het dit gebeur.”
White waarsku dat niemand moet oorreageer nie want die kind se storie kan verander en hy kan dit selfs in die toekoms ontken. Dit is baie belangrik dat ‘n kind weet dit is nie sy of haar skuld nie en wees bereid om betrokke te raak.”
Organsasies wat kan help
Gesinsgeweldhulplyn – 0800 150 150, Childline – 0800 055 055, SAPD – 08 600 10111
Welsynsorganisasies se nasionale kantore en nommers
SAVF – 012 325 3920, CMR – 012 361 4613/19, Kindersorg – 011 452 4110



