Winterfees: Pietman kom bekoor Polokwane
Pietman Geldenhuys erken erken die mense en hul liefde vir vermaak bring hom telkemale weer terug na die noorde.

POLOKWANE- Reeds vanaf ‘n jong ouderdom stel Pietman Geldenhuys belang in musiek en die vermaaklikheidswêreld. Tog, nadat hy op sesjarige ouderdom die eerste keer as solis in die kerk opgetree het, verken hy eers ander beroepe, soos trekkerdrywer en verkoopsman.
Lees meer: Koop jou kaartjies nou vir die Winterfees!
In Engeland is hy ook straatmusikant en dit is hier waar hy deur ‘n plaaslike musiekant raakgesien is. Nadat hy saam met dié musikant begin optree het, het hy in eie reg as musikant begin floreer. Vir bykans 18 maande is hy voltyds in kroeë en ander kruierplekke te sien voordat hy terugkeer na Suid-Afrika en aan City Varsity studeer as omroeper en akteur. Pietman is ook bekend as Pietman die Skot en Peter Mitchell en was mede-aanbieder van Oppiestoep op Kyknet.
Pietman vertel sy besoek aan Polokwane vir die Winterfees, mag dalk al die sesde besoek aan die stad wees. “Ek onthou veral een aand saam met oom Ollie Viljoen en ook ‘n geleentheid wat deur Mev. Polokwane aangebied was. Ek sien uit daarna om tydens die Winterfees weer daardie deel van die land en sy mense te sien en ook om weer met my kollegas toue te kan optel. En natuurlik sien ek uit na die N1,” vertel hy laggend.
Hy erken die mense en hul liefde vir vermaak bring hom telkemale weer terug na die noorde.
Hy droom daarvan om nog saam met Bob Dylan te toer, aangesien hy grootliks deur Bob beïnvloed is en Pietman graag sy stories eerstehands sal wil beleef.
“Ek sal graag eendag by die Royal Albert Hall wil optree. Ek het darem al die voorreg gehad om by die Hammersmith Apollo in London op te tree.”
Vinnige feite:
Uit wie of wat put jy jou inspirasie?
Uit elke gehoor voor wie ek die voorreg het om te kan optree.
Wie of wat is jou grootste motivering?
My vrou is beslis my grootste motivering omdat sy my heeltyd aanspoor en aanmoedig om nuwe dinge aan te pak.
Wat is jou ‘spirit animal’?
Iets tussen ‘n meerkat en ‘n verkleurmannetjie.
Pietman sal Saterdag, 4 Junie, om 18:00 op die verhoog wees. Kaartjies vir die dag beloop R350 vir volwassenes en R250 vir tieners. Kinders onder 10 kan gratis ingaan.




