Kleindorp-dromer Elandré eersdaags in Polokwane
Aanhangers van Elandré kan daarna uitsien om hom op 4 Junie tydens die Winterfees op die verhoog te sien.

POLOKWANE – Die 26-jarige Afrikaanse sanger het bekendheid verwerf na hy ‘n Bruce Springsteen treffer, Tougher than the rest, by sy huis opgeneem het en op sosiale media gedeel het.
Die opname het gelei na ‘n optrede by Bokradio en ‘n platekontrak by Select Music. Tussen 2016 en 2020 stel hy drie albums vry met treffers soos Woorde uit jou mond, Tussen die lakens en Vuur op die water.
Lees meer: Koop jou kaartjies nou vir die Winterfees!
“Ek kom keer op keer terug na Polokwane toe vir die musiek en die mense wat dit met my kan deel. Ek sien uit daarna om in te loer by die mense van Polokwane, en bietjie saam te sing. Die feesprogram alleen is al klaar ‘n teken van ‘n goeie tyd. Ek is so geëerd om saam met die groep hierdie fees aan te vat.”
Daar is twee spesifieke plekke waar Elandré nog vreeslik graag wil optree; die Grand Ole Opry in Nashville, Tennessee in die VSA en die Taal Monument in die Paarl.
“Shania Twain het my geleer toer. Sy smelt ‘n danssaal gig en ‘n stadion vertoning saam wat ‘n mens eerlik aanraak so tussen die vuurwerke deur. Dit sal darem maar goed wees om saam met haar te harmoniseer eendag.”
Elandré voeg by dat hy sy inspirasie uit mense put.
“Ek geniet dit om ‘n lig te skyn op die alledaagse menseverhale met grein, en oomblikke wat mens wil vasvang vir die toekoms. Dit gaan oor die klein goed, so ook met liriek en musiek. Die toekoms is my motivering, en my familie en vriende is die kompas wat help dat ek voort vaart. Hopelik kan ons in die proses die wêreld ‘n beter plek te maak.”




