‘Bly nog ‘n bietjie’ saam met Brendan Peyper by die Winterfees
Brendan tree 4 Junie op en vertel hy sien uit daarna om weer die gehoor in Polokwane te vermaak.
POLOKWANE – Met die woorde van sy treffer Stop, wag, bly nog ‘n bietjie moedig Brendan Peyper Polokwane inwoners aan om die Winterfees te besoek en so lank as moontlik te bly.
Brendan tree 4 Junie op en vertel hy sien uit daarna om weer die gehoor in Polokwane te vermaak. “Ek is baie lief vir die mense in Limpopo en sien uit na die lekker bosveld gevoel wat ek kry wanneer ek daar is. Dan sien ek natuurlik ook uit na die optrede.” Brendan vertel hy besoek Polokwane so gereeld soos een of twee maal ‘n maand.
Lees meer: Koop jou kaartjies nou vir die Winterfees!
“Wanneer ek hoor van ‘n gemeenskap wat na my musiek wil luister is ek nog meer opgewonde om terug te keer daarheen.” Brendan het reeds op ‘n jong ouderdom begin kitaar speel en in 2015 betree hy die Afrikaanse musiekbedryf met sy eerste album met die naam Stop, wag. Bly nog ‘n bietjie. Met treffers soos Die perfekte een vir my en Tafelberg vir twee het hy Suid-Afrikaners bekoor en spoedig een van die gewildste kunstenaars in die land geword.
“Ek sal baie graag saam met die internasionale country sanger, Kip Moore, in Amerika wil toer. Ek sal ook by die Nashville Country Festival wil optree.”
Vir aanhangers wat enkellopened is, is daar goeie nuus aangesien Brendan self enkellopend is en sy toekomstige vrou, wie hy dalk nog moet ontmoet, sy motivering is vir sy musiek.
“My inspirasie kom van alledaagse gebeure, liefde, teleurstellings en uit my onderbewussyn. Die beste dier wat my kan beskryf is ‘n leeu. Dit is my sterreteken en leeus hou van jag, eet en slaap. Dit som my op.”