Juan Boucher opgewonde om Polokwane te vermaak
Juan Boucher beplan om 3 Junie feesgangers by die Winterfees van hulle stoele af en op hulle tone te hou met liedjies van sy nuwe album af.

POLOKWANE – Juan Boucher is nou al vir meer as 10 jaar in die industrie bedrywig en spog met goue en platinum albums agter sy naam. Boucher sê hy is opgewonde om Polokwane te besoek en sien dit as die perfekte geleentheid om sy nuutste musiek met die inwoners hier te deel.
“Ek moes al seker 50 keer in Polokwane kom optree het, en ek geniet dit elke keer om terug te kom. Ek geniet die inwoners baie, en hulle gees maak dit lekker om vir hulle op te tree,” sê Boucher.
Lees meer: Witwarm Winterfees binnekort in Polokwane
Hy is passievol oor sy musiek en sy familie, en voel bevoorreg om ‘n beroep uit sy talente te kan maak.
“My familie inspireer my, en ek voel hulle invloed met elke liedjie wat ek skryf. My gehoor motiveer my om aan te hou, want as ek meer musiek maak, is die kans dat meer mense my musiek luister groter, en dan kan my gehoor ook groei, wat my op die beurt weer verder motiveer.”
Boucher is ‘n groot aanhanger van Spoegwolf se musiek en droom om eendag ‘n verhoog met hulle te kan deel, of selfs saam met hulle te toer. Hy gaan later in die jaar vir die eerste keer in Nieu-Seeland gaan optree en sluit af deur te sê dat hy hoop sy musiek nog wêreldwyd versprei sal word.
As jy vir Juan Boucher in lewende lywe op die verhoog wil sien, gaan koop jou kaartjies op Quicket onder die skakel Container Bar Winterfees.




