Bybelfees met gedenkdiens gevier
Christenafrikaners het Sondagaand by die geloftefeesterrein buite die stad byeengekom om die Here te dank vir die voorreg om die Bybel sedert 1933 in Afrikaans te kan lees. Afikaner kultuurleier, Johan Willemse, het die geleentheid met ‘n kort rede geopen en die geskiedenis van die Bybelvertaling uiteengesit. “Na die Genootskap van Regte Afrikaners in die …

Christenafrikaners het Sondagaand by die geloftefeesterrein buite die stad byeengekom om die Here te dank vir die voorreg om die Bybel sedert 1933 in Afrikaans te kan lees.
Afikaner kultuurleier, Johan Willemse, het die geleentheid met ‘n kort rede geopen en die geskiedenis van die Bybelvertaling uiteengesit. “Na die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl gestig is, het die proses om die Bybel in Afrikaans beskikbaar te stel, aandag gekry. Vroeg in die twintigste eeu het die Afrikaanse kerke aktief betrokke geraak en voltydse vertalers, wat teologies onderlê is, maar veral bekend was met die grondtale van die Bybel, is aangestel. Vroeg in 1933 is die Afrikaanse Bybel in besendings van 10 000 elk, met posbote vanuit Engeland versend, waar die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap die drukwerk behartig het.”
Flip Snyders, leraar van die Hervormde Kerk, Noordelike Pietersburg het ‘n feesrede gelewer met ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer’ (2 Timotheus 3, verse 16 en 17) as tema.
Die Sebulon Lofdansers het luister aan die geleentheid verleen met hul items ‘Shout to the Lord’ en ‘Daar is ‘n vuur binne in my’.
Willemse het ‘n uitstalling van Bybels en Christelike lektuur, waarvan ‘n Statebybel wat in 1870 gedruk is, behartig.
Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com


