Graad 7-leerders neem afskeid met Vlerkdans
Aan die einde van elke jaar bied die graad 6-leerders van Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) ‘n baie spesiale afskeidsfunksie vir die graad 7-groep aan. Die skool se Vlerkdans vind plaas nadat die laaste eksamenvak geskryf is en word so genoem omdat dit tyd geword het vir die leerders om hul vlerke te sprei en die hoërskoollewe …

Aan die einde van elke jaar bied die graad 6-leerders van Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) ‘n baie spesiale afskeidsfunksie vir die graad 7-groep aan.
Die skool se Vlerkdans vind plaas nadat die laaste eksamenvak geskryf is en word so genoem omdat dit tyd geword het vir die leerders om hul vlerke te sprei en die hoërskoollewe aan te pak.
Getooi in pragtige uitrustings het die leerders by die funksie wat by die skool aangebied is opgedaag. Ruwan van der Watt en Mia van Straaten, volgende jaar se hoofseun en -meisie het die graad 7-groep verwelkom.
In sy toespraak het Ruwan gesê dat die groep se paaie weer sou kruis en Mia het die skool se beste wense aan hul oorgedra en hul aangemoedig om altyd Oosskool se naam hoog te hou.
Die Vlerkdans is nie net ‘n dans nie en die leerders het heerlike pretspeletjies ook gespeel. Verversings het vrugtesap, hamburgers en warmbrakke ingesluit en die leerders kon Slush Puppy-yskoeldranke koop.
Spookasem, springmielies en sleutelhouers as aandenkings is ook uitgedeel.
Die dansery was ‘n prettige spulletjie met sommige leerders wat behoorlik geleer is om te dans en vir aangename kykgenot met hul kundigheid op die dansvloer gesorg het.
Storie en fotos: NELIE ERASMUS
>>nelie.observer@gmail.com
Hooffoto: Ruwan van der Watt en Mia van Straaten, volgende jaar se hoofseun en -meisie verwelkom die graad 7-leerders by die Vlerkdans.









