Leerders vermaak oud, jonk met uithalerdanspassies
Oupas en oumas van Akademie Reformia het verlede Donderdagoggend blinkoog toegekyk hoe hul kleinkinders hul slag op die verhoog wys tydens die skool se jaarlikse Oupa en Oumadag. Alle leerders het deelgeneem om die gehoor van nagenoeg 200 met groepitems wat danse soos ‘Footloose’ en ‘Jailhouse Rock’ ingesluit het, te vermaak. Die skool se slagorkes …

Oupas en oumas van Akademie Reformia het verlede Donderdagoggend blinkoog toegekyk hoe hul kleinkinders hul slag op die verhoog wys tydens die skool se jaarlikse Oupa en Oumadag.
Alle leerders het deelgeneem om die gehoor van nagenoeg 200 met groepitems wat danse soos ‘Footloose’ en ‘Jailhouse Rock’ ingesluit het, te vermaak. Die skool se slagorkes en koor het ook voortreflike items gelewer en die kleuters van Kleinbegin Kleuterskool het spontaan meegedoen.
In sy verwelkoming het skoolhoof, Hennie Combrink benadruk dat grootouers ‘n besondere bate is wat ‘n belangrike rol in die samelewing vervul.
“By grootouers leer kinders iets van die onvoorwaardelike liefde wat God vir sy kinders het. Hulle is heel bo-aan die familieboom en kinders moet die geleentheid aangryp om inspirasie van hul grootouers te kry. Julle is kosbaar en ons waardeer julle.”
Die gaste is ná die verrigtinge met eet- en drinkgoed bederf en gaste van so ver as Nelspruit het die spesiale dag bygewoon.
Donderdagaand het ouers, vriende en ander familielede aan die beurt gekom en hul waardering na elke item met juigende applous gewys.
Storie en fotos: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com
Fotos: MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com
Hooffoto: Elvis Presley se ‘Jailhouse Rock’ laat die graad 4 en 5-leerders ruk en rol.



