Pieties se doepa sterk genoeg vir klinkende oorwinnings

Hoërskool Pietersburg (PHS) se rugbyspanne kan vir die volgende jaar breëbors in die stad rondloop. Ondersteuners was hoopvol toe Tommies die eerste punte op die telbord kon sit en Pieties telkens tot op die doellyn gedryf het. Hul kon egter net nie daarin slaag om oor die doellyn te duik nie en het in die …

Hoërskool Pietersburg (PHS) se rugbyspanne kan vir die volgende jaar breëbors in die stad rondloop.
Ondersteuners was hoopvol toe Tommies die eerste punte op die telbord kon sit en Pieties telkens tot op die doellyn gedryf het. Hul kon egter net nie daarin slaag om oor die doellyn te duik nie en het in die tweede helfte stoom verloor, terwyl PHS elke geleentheid gebruik het om agter die pale te gaan kuier om die Bosveld Intervarsity met 39-12 te wen.
Dié wedstryd was ook deel van die Virseker-bekerreeks vir groot skole en Franco du Plessis, Tiaan Janse van Rensburg, Daneel Joubert en Driaan Kruger het drieë gedruk terwyl Martin Austen met drie doelskoppe en ‘n strafdoel geslaag het. Jaco Mulder het ‘n tweekuns behaal.
Nie een van Tommies se ander rugbyspanne kon daarin slaag om meer as vyf punte teen Pieties aan te teken nie en ‘n totaal van slegs 37 punte teenoor Pieties se 396 is aangeteken.
Die oumannewedstryd was soos gewoonlik ‘n hoogtepunt toe oudleerders van beide skole gewys het wat nog in hulle steek en hoe harde rugby gespeel word.
Tommie-hoof, Piet Holtzhausen, het Maandagoggend hard met leerders gepraat en sy ontevredenheid oor van die spanne se swak prestasie uitgespreek. “Die Bosveld Intervarsity is goed aangebied en PHS het uit hul pad gegaan om ‘n sukses daarvan te maak, maar ons het baie werk wat voorlê. Spelers sal skouer aan die wiel moet sit om hul spel te verbeter,” het hy gesê.
Pietie-hoof, Willie Schoeman, sê Tom Naudé se eerstespan het hom verras. “As Tommies vroegtydig kondisioneer en fiks is, het ons binne ‘n jaar of twee moeilikheid. Die tellings maak nie baie saak nie want dié hervestigde tradisie het die afgelope twee jaar goeie gees onder beide skole na vore gebring. Ons wil elke leerder, ouer en onderwyser bedank vir die suksesvolle aanbieding met opregte dank aan BB Motorgroep as hoofborg en al die ander borge wat die hartklop van die Bosveld Intervarsity is.”
Die Bosveld Intervarsity het verlede Maandag begin en twee skole het op verskeie gebiede kragte gemeet.
Vroeër die week het Pieties die oorhand in boogskiet, skaak en netbal gehad, maar kon nie op die jukskeibaan of sokkerveld die mas teen Tommies opkom nie. PHS se onderwysers het vir Tom Naudé ore op die rolbalbaan aangesit.

Storie, foto’s en video: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Tom Naudé se Johan Potgieter staan geen kans teen PHS se eerste­spanspelers, Werner Roets en Lohan Duvenhage nie.
Tommie-tweede­spanspeler, Waldo Duvenhage, trek Daniel Swarts van PHS plat.
Tom Naudé se Shaun Schoeman, o.16A, is te stadig vir PHS se Gerhard van der Merwe.
Keegan Menzies van PHS se o15A-span wen veld terwyl sy spanmaat, Zanru Jewaskiewitz, beskikbaar is vir hulp.
Christo Pretorius van Tommies se oumanne loop teen PHS se verdediging vas.

Hoenderveloomblikke tydens gróót rugbykragmeting

Die harde rugbystryd tussen Hoërskool Pietersburg (PHS) en Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se eerstespanne het vanjaar se Bosveld Intervarsity op ‘n hoë noot afgesluit.
Alhoewel Tommies al hul wedstryde verloor het, moet hulle nie onderskat word nie en die bordjies kan binne ‘n jaar verhang word.
Pieties het kookwaterrugby gespeel en was deurgans op die aanval.
Die dag is deur uitnemende rugby en goeie sportmangees gekenmerk met Driaan Kruger van PHS wat as Speler van die Eer­ste­spanwedstryd aangewys is.

JP Pieterse van Tommies se o.16-span, sukkel om ‘n Pietie vas te trek.
Pieties se eerstespanskrumskakel, Tiaan Janse van Rensburg, speel die bal agterlyn toe.
Een van PHS se eerstespan driedrukkers, Driaan Kruger benut ‘n gaping.
Theyman Jongbloed van PHS se oumannespan kry vinnig die bal uit die losgemaal.
Francois Lottering van Tommies se oumannespan laat waai met die bal vir die agterlyn.
‘n Pietie loop hom vas teen Tommies se eerstespanspelers, Hano Fourie en Johan Potgieter.
Tiaan Siemelink van PHS en Koning Janse van Rensburg van Tommies jaag ‘n los bal.
Eduaniq Harmse van Tommies se o.16-rugbyspan word deur PHS se Juandré Moos grond toe gebring.
Tweedespanspeler, André Viljoen van PHS baan sy weg tot agter die doellyn.
Tommies se Patrick Maraba, tweedespan, voer ‘n systap uit.
Ruan Bester van Tommies
se oumanne word by die kantlyn platgetrek.
Tommie-ouman, Zander Byleveldt, skop die bal uit.
Daniel Swarts van PHS se tweedespan is onstuitbaar.

 

Back to top button