Polisie, GPF span saam tydens operasie

Die Polokwane polisie is tans met ‘n operasie in die sentrale sakekern besig waar hulle bewusmaking onder inwoners oor onder andere beveiliging van hul eiendom en algemene veiligheid by ‘n Outomatiese Tellermasjien (OTM) skep. Lede van verskeie sektore van die Polokwane Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sal na verwagting vandag (Vrydag) om 14:00 by die polisie aansluit. “Die …

Die Polokwane polisie is tans met ‘n operasie in die sentrale sakekern besig waar hulle bewusmaking onder inwoners oor onder andere beveiliging van hul eiendom en algemene veiligheid by ‘n Outomatiese Tellermasjien (OTM) skep.

Lede van verskeie sektore van die Polokwane Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sal na verwagting vandag (Vrydag) om 14:00 by die polisie aansluit.

“Die bewusmakingsveldtog is deel van ‘n gereelde operasie wat in die middestad gehou word om die gebied te beveilig en misdaad hok te slaan. Diefstal uit voertuie bly steeds die grootste uitdaging en ons wil veral veiligheid daaroor onder mense se aandag bring,” sê Polokwane polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba. Verder word die gemeenskap ook oor mensehandel, senior burgers se regte en huishoudelike geweld ingelig.

“Ons deursoek ook voetgangers, besoek winkels en gaan permitte of dokumentasie na. Indien nodig, sal ons arrestasies maak en persone vervolg,” sê Ramoshaba.

Hy sê die polisie werk nou saam met die GPF en die gemeenskap en waardeer insette van beide partye om kriminele aan te keer en aan die pen te laat ry.

Storie en fotos: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Polokwane polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba skep bewusmaking onder twee ouer gemeenskapslede.

Zoleka Simons van die Polokwane polisie se kommunikasie-eenheid gesels met ‘n motoris.
Zoleka Simons van die Polokwane polisie se kommunikasie-eenheid gesels met ‘n motoris.

 

Back to top button