Suksesvolle uithourit toets ruiters, perde se vermoëns
Die eerste van twee uithouritte wat vanjaar aangebied word, is as ‘n reuse sukses met ‘n tegnies moelike baan deur deelnemers beskryf. Ruiters was dit eens dat die organisering uitstekend was. Twee vroueruiters het die moordende 120 km-afstand tydens die eerste Capricorn Endurance Club se uithourit van die jaar voltooi en 60 ruiters het afstande …
Die eerste van twee uithouritte wat vanjaar aangebied word, is as ‘n reuse sukses met ‘n tegnies moelike baan deur deelnemers beskryf. Ruiters was dit eens dat die organisering uitstekend was.
Twee vroueruiters het die moordende 120 km-afstand tydens die eerste Capricorn Endurance Club se uithourit van die jaar voltooi en 60 ruiters het afstande van onderskeidelik 40 km, 80 km en 120 km gery.
Die jongste meisiedeelnemer was Clara Barnard (10) op haar perd Arkab Chicco, wat 40 km voltooi het, terwyl die negejarige Juan Venter die jongste seunsdeelnemer was wat ook die naaswenner in die afdeling vir kinders in die 80 km-rit was.
Perde is na die eerste 40 km deeglik deur een van drie veeartse ondersoek. Na ‘n ruskans was hul op pad vir die res van die rit waartydens hul nog twee keer gemonitor is.
Die wenners was Zane Barnard op Zamira Zafox in die 80 km vir kinders, Kayla Hairbottle op West in die 80 km vir jong ruiters, Yolandi van der Klashorst op Kitima Silver Dream in die 80 km vir liggewigruiters, McKyla Olivier op Mekadesh Mekadesh Aziza in die 80 km-standaardgewig en Johan du Pont op Helen in die 80 km-swaargewigafdeling.
Sarie Pieters op Tarkiz Baariq Anjum het die 120 km-standaardgewigklas gewen, met Audrey Marais op Pula in die tweede plek. Die Beste van die Beste-trofee is aan Anandre van der Nest en Silver Dawn Zafier toegeken. Dit beteken dat ruiter en perd die beste na afloop van die rit vertoon het. Hulle het aan die 80 km-liggewigafdeling deelgeneem.
Amptelike tye sal in die loop van die week op die klub se webblad verskyn.
Storie en foto’s: NELIE ERASMUS
>>nelie.observer@gmail.com






