InternationalSport

Sasol Hydra-Arc Rugbyklub se eerstes troef NWU Vaal Pukke in vriendskaplike wedstryd

Sasol se spelers was die hele veld vol en het draaie om die Pukke gehardloop. Die eindtelling was 59-7 in Sasol se guns.

SECUNDA – Die Sasol Hydra-Arc Rugbyklub se eerstespan het Saterdag die span van die NWU Vaal Pukke met 59-7 verpletter.

Hoewel dit ’n vriendskaplike wedstryd op Sasol se tuisveld was, het humeure by tye hooggeloop en het die spelers mekaar telkens rondgestamp en uitgejou.

Sasol se span het van die staanspoor af goed saamgewerk en die balle is gereeld vir die vleuels aangegee om drieë in te ryg.

Shaun Jacobs (Sasol Hydra-Arc Rugbyklub se regtervleuel) duik oor vir Sasol se eerstespan se eerste drie.

Shaun Jacobs, regtervleuel, het binne minute van die afskop oorgeduik vir ’n drie wat deur die losskakel, Jannie van der Merwe, verdoel is.

Jacobs het kort daarna weer die bal vir nog ’n drie ontvang. Dié drie is nie verdoel nie.

Francois Jacobs, Sasol se losskopstut, het nie op hom laat wag nie en met brute krag deurgedruk tot by die doellyn om ’n drie te plant. Van der Merwe het die drie verdoel.

Sasol se spelers was die hele veld vol en het draaie om die Pukke gehardloop. Voor die einde van die eerste helfte het hul skrumskakel, Dalton Smith, en Shaun Jacobs nog ’n drie elk gedruk wat deur Van der Merwe verdoel is.

Die rustydtelling was 33-0 in Sasol se guns.

Shaun Jacobs het sy segetog in die tweede helfte voortgesit. Die fluitjie het skaars geblaas om die begin van die tweede helfte aan te kondig, toe Jacobs sy draai agter die doellyn gaan maak het.

Van der Merwe se skopvoet was goed ingestel en het weer die bal deur die pale gestuur.

Willa Martins het daarna kans gekry om oor te duik vir ’n onverdoelde drie.

Die NWU Vaal Pukke het ook uiteindelik punte op die telbord gekry met ’n drie wat verdoel is. Die puntestand was toe 45-7.

Dalton Smith het weer ’n kans raakgevat en die bal in die hoekie onderskep en onder die pale geplant, waarna Lourandt Pepler, ’n reserwe, ook ’n drie onder die pale gedruk het.

Van der Merwe het albei drieë verdoel. Die eindtelling was 59-7.

Me. Mariëtte Kruger, klubsekretaris, het gesê die tweedespan het hul wedstryd met 34-5 gewen.

Sasol speel eerskomende naweek teen Roodepoort.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button