Local newsNews

Lizzie motiveer vroue

Haarkapper wil ander help.

SECUNDA – Me. Lizzie Da Luz het geleer hoe om te vergewe nadat haar man vier jaar gelede op pad na Angus Buchan se Mighty Men-konferensie naby Greytown vermoor is.

Sy motor het onklaar geraak en twee mans het hom oorval, sy keel afgesny en met sy motor weggery.

Hulle het sowat 1km verder onder ’n vragmotor ingery, maar is nie ernstig beseer nie.

Albei is in hegtenis geneem.

“Die Here het my gehelp om hulle te vergewe,” het sy gesê.

“Ek het gedink ek sou nie kon funksioneer nie, maar die Here het my gehelp.

“’n Mens moet jou lewe regmaak, jy weet nooit wanneer dit jou laaste dag is nie.”

Sy en haar man, mnr. Simon Da Luz, het destyds op Kriel gewoon.

Hy het kort voor sy dood tot bekering gekom.

Hy is vanuit die Roepersfontein Kerk Kriel-gemeente begrawe en me. Da Luz het sy begrafnis as ’n feesmaal soos in Openbaring 4 beskryf.

Sy het op haar man se begrafnis gepraat en 25 mense het daardie dag tot bekering gekom.

“Ek het deur die moeilike tye in my lewe net aan die Here vasgehou,” het sy gesê.

Sy het 10 jaar gesukkel om met haar tweede seun swanger te raak nadat dokters na die geboorte van haar eerste seun gesê het sy sou nie weer kon swanger raak nie.

Sy was op ’n stadium baie siek en dokters het eers dink sy het bloedkanker.

Hulle het haar later egter met fibrositus gediagnoseer.

Fibrositus veroorsaak voortdurende pyn in die hele liggaam.

Me. Da Luz het gebid en die Here het haar van dié siekte genees.

Sy het later haar eie haarsalon op Kriel begin voordat sy na Secunda verhuis het.

Sy is ’n harkapper en het in haar salon op Kriel die Woord bedien en gesien mense het ’n behoefte aan liefde.

“Dit maak my gelukkig om ’n verskil aan ander mense se lewens te maak,” het sy gesê.

Sy tree deesdae as motiveringspreker by kerke en ander geleenthede op.

Sy het ’n paar maande na haar man se dood voor 3 000 mense by ’n vrouekamp gepraat en haar verhaal van vergifnis vertel.

“Die Here het vir my deure oopgemaak om werk by die haarsalon waar ek nou werk, te kry,” het sy gesê.

Me. Da Luz het die volgende stuk tydens een van haar moeilike seisoene geskryf:

“Die Seisoene van ons Lewens.

“Daar is seisoene van droogte en dit is winter.

“Seisoene van reën en dit is heerlik.

“Seisoene van lente en seisoene van somer.

“Almal van ons geniet die son.”

“Die seisoene van oorvloed wat baie skade kan doen, maar vir elke seisoen sien ons die Here se doel in ons lewens.

“Met die verskillende seisoene leer ons dat daar ’n begin en ’n einde aan elke seisoen is.

“Wat ons daaruit moet leer, is om dankbaar te wees vir wat die Here vir ons gee, al is dit nie wat ons wil hê nie.

“Ons verkies altyd die lekker van die lewe en nie die slegte dinge wat seermaak nie.

“Vandag kan ek sê, dankie Here Jesus vir elke seisoen wat ek in my lewe ondervind, want U liefde was altyd daar vir my.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button