AfriForum woeker op Bethal
Ondersteun organisasie en raak betrokke by oplossing van probleme.
BETHAL – Vrywilligers en lede van AfriForum se plaaslike tak het in Maart gewoeker met waterverskaffing, instandhouding en die herstelwerk van slaggate.
Dié tak het, in samewerking met boere, 240 000 liter water gedurende Maart verskaf toe Bethal gebuk gegaan het onder watertekorte.
Water is by noodwaterpunte, skole en ouetehuise afgelewer. AfriForum koördineer die aflewerings en help met uitdagings soos die koppeling tussen die tenkwaens en die waterpunte.
Dié organisasie is in die proses om die noodwaterpunte ’n standaard toevoeging te maak sodat waterlewering meer doeltreffend kan plaasvind.
Dié toevoegings sluit in lang pype by van die waterpunte waar tenkwaens nie water kan aflaai nie omdat sommige persele dig toegebou is.
Die pype stel AfriForum in staat om water vanaf die hoofstraat buite die ouetehuise en van die noodwaterpunte, na die betrokke geboue te pomp.
ALSO READ: Miss Mpumalanga 2026 meets premier
AfriForum het ’n skrywe aan Mpumalanga se Departement van Water en Sanitasie gerig en versoek dat meer druk op Govan Mbeki Munisipaliteit geplaas word om waterlewering en -voorsiening meer volhoubaar te maak.
Terselfdertyd is AfriForum en die munisipaliteit besig om koppe te stamp omdat dié organisasie verskeie aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien het rakende die waterleweringsooreenkoms tussen Rand Water en die munisipaliteit.
Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga, het gesê: “Govan Mbeki Munisipaliteit wil nie die eerbare ding doen en ons inlig oor wat die ware oorsaak van die watertekorte is nie.
“Ons het natuurlik, net soos die inwoners, ’n sterk vermoede dat die watertekorte aan wanbetaling toegeskryf kan word, maar ons kan nie die saak op bespiegelinge bou nie.
“Ons sal aanhou baklei vir die waarheid want inwoners verdien dit, tesame met volhoubare waterlewering.”
ALSO READ: Mayor assesses progress on concrete reservoir in Leandra
Van die ander projekte wat AfriForum steeds doen, sluit in om Tsibitso Sibanyonistraat, in samewerking met die inwoners, te herstel en te onderhou.
Hulle het al 230 sakke teer in dié straat gebruik. ’n Opvolgprojek is reeds beplan om die straat verder te herstel.
Klipfontein-slaghuis het AfriForum ook genader om ’n reuse-slaggat reg voor die slaghuis se hoofingang te herstel.
Dié projek het 13 sakke teer benodig wat die slaghuis geborg het. AfriForum het die arbeid en masjinerie geborg om die projek te voltooi.
“Ondernemings en inwoners kan gerus met ons skakel om hulle met slaggat-herstelwerk te help,” het Bekker gesê.
“Indien die inwoners die produk betaal, sal AfriForum die herstelwerk in Bethal kosteloos voltooi. Op dié manier subsidieer ons en inwoners die herstel van ons dorp.”
Besoek AfriForum se webwerf by www.wordlid.co.za om aan te sluit en betrokke te raak.



