Lourens fokus op dienslewering in Govan Mbeki munisipale gebied
Meld enige veiligheidsrisiko’s op Lourens se blog aan.
SECUNDA – Mnr. Lourens Badenhorst het besluit om ’n blog op die internet te stig waar mense kan kla oor spesifiek veiligheidsrisiko’s soos oop kragbokse, oop mangate, rioolprobleme wat ’n gevaar inhou, straatligte wat nie werk nie en meer.
Dit kom nadat hy gesukkel het met dienslewering by Evander Hospitaal en rioolprobleme gehad het.
Hy het dié blog, govanmbekisafety.blogspot.com, bykans ses maande gelede begin en het mense genooi om hul klagtes of foto’s na die blog te stuur, waarna hy dit dan na die betrokke departement by die munisipaliteit of provinsiale department sal verwys en verder sal neem.
Mnr. Badenhorst het gesê hy al goeie reaksie van die munisipaliteit gekry het en die spoedgrens op die pad tussen Evander en Secunda is al na 80 verminder nadat hy die provinsiale departement ingelig het dat baie mense nie die draai op dié pad sien nie en in die dam jaag.
Die doel van sy blog is om mense van gevare bewus te maak en om die munisipaliteit in kennis te stel.
“Oop elektrisiteitsbokse is gevaarlik vir kinders en só ook oop mangate,” het hy gesê.
Mnr. Badenhorst het die eienaars van ondernemings aangemoedig om die gebied om hul ondernemings skoon en netjies te hou.
“As elkeen die gras om sy eie onderneming sny en die vullis optel, sal dit ’n groot verskil maak,” het hy gesê.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



