SECUNDA – Die New Life Ondersteuningsgroep wat mnr. Gert van Zyl begin het, is nog aan die gang.
Die groep stuur met behulp van die CMR, twee keer ‘n week dwelmverslaafdes na die Swartfontein Rehabilitasiesentrum op Witrivier.
Die rehabilitasieproses duur drie maande en die verslaafdes skakel weer by die New Life Ondersteuningsgroep in as hulle uitkom.
“Ons help enige iemand wat ’n verslawingsprobleem het,” het mnr. Van Zyl gesê.
Die groep kom elke Donderdagaand om 7nm bymekaar.
Hy het ouers aangeraai om een keer ’n maand saam na die byeenkomste te gaan waar hulle vrae beantwoord sal word.
Mnr. Van Zyl was self aan dwelms verslaaf en was in ’n rehabilitasiesentrum.
“Dit is my passie om ander te help en ek wou dit al doen sedert ek uit die rehabilitasiesentrum gekom het,” het hy gesê.
“Die Here seën die groep, die ouens kom skoon en ek is net die instrument in die Here se hande.
“Ek geniet dit baie om deel van hul herstelproses te wees.”
Skakel mnr. Van Zyl by 076 325 9144.



