AfriForum herstel brug
Die projekspan het na afloop van die herstelwerk aan die pad ook slaggate voor die Silwerjare-aftreeoord herstel met die teer wat oorgebly het.
Die pad wat oor die Nestlé-brug in Bethal loop, spog met ‘n splinternuwe baadjie danksy die plaaslike AfriForum-tak.
Die tak het op 15 Julie 2015 met ‘n selfdoenprojek begin om dié pad, wat in ‘n haglike toestand was, te herstel.
Mnr. Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Mpumalanga, het gesê dat die toestand van die pad ‘n gevaar vir motoriste geword het en dat dit vir baie inwoners die hoofroete na Hoërskool Hoogenhout is.
“Ons het sowat ‘n maand gelede met die beplanning vir die projek begin.
“Ons is moeg daarvoor om belasting te betaal, maar dan word die paaie in ons dorp nie eers onderhou nie,” het mnr. Aljay van der Merwe, voorsitter van die Bethal-tak gesê.
Die projek is in samewerking met die belastingbetalersvereniging, C&F Konstruksie, Asphalt 2000, mnr. Dewald te Water en die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit voltooi.
Die projekspan het na afloop van die herstelwerk aan die pad ook slaggate voor die Silwerjare-aftreeoord herstel met die teer wat oorgebly het.
“Die instandhouding van paaie is een van die munisipaliteit se grootste uitdagings,” het mnr. Gonzales gesê.
“Die rede vir die swak instandhouding is gewoonlik ‘n gebrek aan fondse en die nodige kundigheid.
“Daarom het AfriForum besluit om self in te gryp.”



