Bethallers bly oor ‘nuwe’ brug
Mense kan by die tak betrokke raak deur 'Nestlé-brug' na 45350 te sms teen R1.
BETHAL – Die pad oor die brug naby die voormalige Nestlé in Malherbestraat, is op Vrydag, 17 Julie deur lede van die plaaslike AfriForum-tak en die gemeenskap herstel.
Die tak het op Woensdag, 15 Julie met ‘n selfdoenprojek begin om dié pad wat in ’n haglike toestand was, te herstel.
“Ons het sowat ’n maand gelede met die beplanning vir die projek begin.
“Ons is moeg daarvoor om belasting te betaal, maar die paaie op ons dorp word geensins onderhou nie,” het mnr. Aljay van der Merwe, voorsitter van die Bethal-tak, gesê.
“Ons mikpunt was om die pad reg te hê voor die skole weer begin en ons het daarin geslaag.”
Die projek is in samewerking met die Belastingbetalersvereniging, C&F Konstruksie, Asphalt 2000, mnr. Dewald te Water en die Govan Mbeki Munisipaliteit voltooi.
Die projekspan het na afloop van die herstelwerk aan die pad, ook slaggate voor Silwerjare Tehuis vir Bejaardes in Du Plooystraat met die teer wat oorgebly het, herstel.
Mnr. Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Mpumalanga, het gesê dat die toestand van die pad ‘n gevaar vir motoriste geword het en dat dit vir baie inwoners die hoofroete na Hoërskool Hoogenhout is.
Volgens hom is die instandhouding van paaie een van die munisipaliteit se grootste uitdagings.
“Die rede vir die swak instandhouding is gewoonlik ’n gebrek aan geld en die nodige kundigheid.
Daarom het AfriForum besluit om self in te gryp,” het mnr. Gonzales gesê.
Die toestand van die brug het egter oor die jare versleg en is die pad tydens die reënseisoen gesluit.
Inwoners het ook in die verlede self die slaggate probeer herstel.
Die Bethal-tak wil ’n verskil maak en die toestand van die dorp verbeter.
Mense kan by die tak betrokke raak deur ‘Nestlé-brug’ na 45350 te sms teen R1.





