Riool veroorsaak groot kopseer
Inwoners is moeg vir herhaaldelike rioolprobleme.
SECUNDA – Hoewel die Govan Mbeki Munisipaliteit dreine in Drakensbergstraat reggemaak het, is inwoners steeds bekommerd oor die gereelde rioolprobleme wat hulle ondervind.
Volgens hulle het die Govan Mbeki Munisipaliteit al die dreine oopgemaak, maar sodra dit net ’n bietjie reën, loop die mangate en dreine in inwoners se erf oor.
“Dit hou ’n gesondheidsrisiko in en kinders moet verby dié gemors op pad skool toe loop.
“Alles wat hier in Drakensbergstraat afloop, eindig in die Eendedam en daar is mense wat gereeld daar hengel en ander wat hul kinders daar laat swem,” het ’n bekommerde inwoner gesê.
Nog ’n inwoner ondervind probleme met ’n drein wat in sy buurman se erf oorloop en dan in sy erf vloei.
Dit is duidelik dat dit rou riool is omdat daar toiletpapier en menslike afval sigbaar is.
Die inwoners in Drakensberstraat sê:
“Dit is so erg dat ons nie toegang kan kry tot ons erf sonder om oor dié gemors te loop nie.
“Dit help nie dat die dreine net in die erwe oopgemaak word nie.
“Die oorsprong van die probleem sal gevind moet word om te voorkom dat dit weer gebeur.”
Inwoners kla omdat hulle die munisipaliteit herhaaldelik moet skakel om die probleem te kom oplos.
Hoewel die munisipaliteit vir ’n paar dae aaneen gewerk het om die oorsprong van die probleem te probeer kry en die dreine oopgemaak het, het ’n inwoner gesê dat hulle geweier het om die gemors wat in hul erf ingeloop het, skoon te maak.
“Daar is bloot net vir ons gesê dat ons moet wag tot dít droog word en dan sal hulle dit eers kan kom skoonmaak.
“Ons kan nie in dié stank leef terwyl rou riool aanhou om in ons erwe in te stroom nie.
“Waar gaan dit eindig?
“Kan mense nie besef dat dit ’n gesondheidsrisiko inhou nie?
“Ons diere en kinders kan nie in ’n erf speel wat vol riool is nie,” het ’n moedelose inwoner gesê.
Die Govan Mbeki Munisipaliteit het aan die probleem gewerk en die dreine is reggemaak.
Inwoners se dreine in hul erwe is oopgemaak en riool loop tans nie meer uit die dreine uit nie.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 590c76a8
WhatsApp – 0793644185






