Mosambiek “Bucketlist” – Nuus uit die kamp (3)
Die gesinstydskrifte, boeke en musiek wat hulle saamgeneem het is nog net so weggepak.

“I have not experienced a Sunday like this in all my Sunday’s past in this lifetime”, lui ’n inskrywing op die Leef jou droom Mosambiek Bucketlist-span se facebookblad.
Die “Leef jou droom”-span het verlede Donderdag hul reis verder suid na Inhambane waar hulle in Tofo kamp opgeslaan het, voortgesit.
Tofo bestaan uit verskeie strandoorde en dit is duidelik dat die armoede wat hulle in die eerste deel van hul reis beleef het nie hiér ter sprake is nie.
Marius Scholtz beskryf die plaaslike kunstenaars as baie kreatief met hulle abstrakte werke gemaak uit hout, draad, riete en kokosneute.
Inhambane het talle historiese geboue en ‘n hoogtepunt was om die trein wat laaste deur Mosambiek gery het en nou ‘n nasionale museum is, te besoek.
Marius vertel dat dit opmerklik was hoeveel “expats” in Tofo woon: Engelse, Amerikaners en selfs Suid-Afrikaners wat jare gelede net met vakansie gegaan het en verlief geraak het op die “paradys” en besluit het om hul lewe daar te slyt.
Die gemeenskap beskryf Tofo as die “Margate van Mosambiek” met ‘n jong gemeenskap wat leef vir branderplankry en die rustigheid wat die natuur bied.
Dinsdag het die drie manne weer opgepak en pad gevat Xai-Xai toe waar hulle nog ‘n strepie op hul kluitklaplysie sal afmerk.
Marius is baie opgewonde dat hy uiteindelik kans sal kry om self ‘n lyntjie nat te maak met rots- en sandhengel wat alombekend is in Xai-Xai.
Hulle sien ook uit na ‘n seesafari waar hulle hul volgende episode gaan opneem en hoop om dolfyne, walvisse en haaie te sien.
Marius vertel dat hulle hard werk met die filmopnames en as hulle ‘n ruskans kry, sit hulle bloot net en neem die asemrowende natuurskoon in.
Hy vertel laggend dat die gesinstydskrifte, boeke en musiek wat hulle saamgeneem het nog net so weggepak is.
Hulle geniet net die idilliese droomwêreld waar hulle kalm wakker word en nader aan die Here voel.
“Ons leef elke dag die Here se skepping.” sê Marius.
Hou gerus die Hoëvelder se web-en facebookblad dop vir gereelde nuus uit die kamp.
Die drie se vordering kan ook gevolg word op facebook by Mozambique Bucket-List-Leef jou droom.








