Secunda -VLU se spreker boei lede met praatjie
Praatjie oor vroue in die tronk treffend.
SECUNDA – Die plaaslike VLU-tak het lede op die punte van hul stoele gehad op 5 Mei tydens hul vergadering by Davieshof.
Me. Elaine Koch, voorsitter van die Sukkelaartak op Bethal, het oor vroue in die tronk gepraat.
Sy het op die effek wat gevangenisstraf op die emosies van vroue het, gepraat.
“Dié vroue is mense wat liefde en aandag nodig het,” het me. Koch gesê.
“Die feit dat hulle as kriminele deur die sisteem bestempel word, maak hulle nie minder mens nie.
“Hul lewens is daagliks dieselfde en sommiges wat familielede verloor terwyl hulle in aanhouding is, word eers deur die werklikheid geraak as hulle vrygelaat word.
“Dit bring dan ander emosionele trauma na vore.
“Baba’s wat in die tronk gebore word, word tot op twee jaar in ’n kleuterskool in die instituut gehuisves.
“Hulle word dikwels vir aanneming gegee of aan familielede oorhandig.”
Daar is verskeie projekte wat vroue in gevangenis mee besig gehou word, soos naaldwerk, kuns en studies.
Hulle benodig tans toiletware, waslappe en sanitêre ware.
Me. Koch het gevra dat warm klere en toiletware aan die plaaslike maatskaplike werkers gegee word vir verspreiding.
Klere en toiletware kan ook by die VLU-tak ingehandig word.
“Ek gee mense hoop.
“Iets gebeur in jou siel wanneer jy vir mense sonder hoop iets beteken,” het me. Koch gesê.
Alle vroue wat die vergadering bygewoon het, is bederf met sjokolade vir Moedersdag.
Die tak het ook klere,’n naaimasjien en komberse ingesamel en aan me. Koch oorhandig.





