Local newsNews

Troeteldier Kersfeesidees

Kerstyd is gewoonlik ook feestyd en dit beteken heerlike ryk kos en bakke en borde vol soethappies en versnapperinge

SECUNDA – Kerstyd is gewoonlik ook feestyd en dit beteken heerlike ryk kos en bakke en borde vol soethappies en versnapperinge.

Met al dié bederfkos in die huis, is dit maklik om te vergeet dat jou dierekinders nie saam mag smul nie.

Verder kan die stres van langpad ry, die gevare van Kersversierings en Kersliggies en die truama van vuurwerkvertonings die lewe vir diere baie moeilik maak oor Desember.

Omdat niemand regtig kans sien vir ’n siek troeteldier oor Kersfees nie, het ’n plaaslike veearts en die Hoëveldrif DBV die volgende riglyne gegee vir gelukkige en gesonde diere oor Kerstyd.

• Onthou dat jou hond nie menskos kan eet nie. Selfs een stukkie kaas of ryk vleis kan sy hele spysverteringstelsel omver gooi of daartoe bydra dat hy oorgewig word en dan sukkel met hartprobleme.

• Troeteldiere kan maklik dink dat helder liggies en Kersversierings speelgoed is. Sorg dat jou Kersboom en -versierings buite bereik van jou hond is, want plastiekornamente, blink tinsel wat ingesluk word en glas wat kan breek kan alles jou hond beseer.

• Maak seker dat jou troeteldier nie per ongeluk die Kersboom op homself omkeer nie.

• As jy en jou gesin van plan is om met vakansie te gaan en jul diere gaan nie saam nie, sorg dat jou troeteldiere veilig by ’n diere-opasser gaan bly of reël dat iemand in jou huis kom woon.

• As jy van plan is om lang pad met jou troeteldier te ry, praat met jou veearts oor dierekalmeermiddels en maak seker dat jou dier nie dehidreer nie.

• Harde musiek, vuurwerke, donderstorms en die klanke van partytjies kan alles bydra tot ’n gespanne dier. As jy weet jou hond is sensitief vir harde geluide, maak vroegtydig voorsorg en praat weer met jou veearts oor kalmeermiddels. Gebruik ’n waaier of ’n radio om agtergrondklank te skep wat jou hond se aandag kan aftrek en sorg dat hy nie kan ontsnap of homself beseer terwyl hy probeer ontsnap nie.

• ’n Toename in huisbrake tydens die feesseisoen stel ook jou diere in gevaar vir vergiftiging. Daar is ongelukkig nie veel wat mens kan doen om jou hond daarteen te beskerm nie. Probeer hulle leer om nie kos van vreemdelinge te aanvaar nie, laat hulle binne slaap en maak seker daar is nie gif in jou tuin voordat jy hulle laat uitgaan in die oggende.

As jy jou diere wil bederf of op soek is na Kersgeskenkidees vir hulle, dink daaraan om tuisgemaakte hondebeskuitjies te bak of om ’n hondebeskuitjiekrans te maak.

Hondebeskuitjieresep:

1 K bruismeel

2 Eetlepels rou hawermout of ‘nutty wheat’

1 Eier

1 K vleisaftreksel

2 Eetlepes suikervrye grondboontjiebotter

2 Eetlepels biltong poeier

Melk en eiermengsel of mee te borsel.

Meel om te strooi.

Metode:

Meng die meel, hawermout en biltongpoeier saam, en voeg die eier en grondboontjiebotter by.

Meng dié stywe mengsel met ’n houtlepel en voeg stadig omtrent die helfte van die vleisaftreksel by.

Met die houtlepel of met jou hande begin die beslag verwerk totdat diit ’n werkbare deeg vorm.

Knie die deeg en voeg druppels vleisaftreksel of bietjie meel by tot dat die deeg sy vorm hou en uitgerol kan word.

Strooi ’n skoonwerksoppervlak met meel en rol die deeg daarop uit, tot omtrent 5mm dikte.

Druk hartjie-, sterrerjie- of hondepootjiekoekies uit die deeg, plaas op ’n gesmeerde bakplaat en borsel met die melk en eier mengsel.

Bak teen 200 grade celsius tot goudbruin en bros. (Om en by 15 minute)

Wag tot dat die beskuitjies heeltemaal koud is voordat jy dit vir jou hond voer.

Stoor in ’n bruinpapiersakkie vir tot twee maande.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button