Local newsNews

Secunda-seun se laaste wens is om na Ushaka Marine World in Durban te gaan

Dokters weet nie hoe lank Daniël nog gaan leef nie

SECUNDA – ’n Positiewe me. Tanya Nelson het vertel van haar seun, Daniël Nelson, se stryd teen neuroblastoom.

Daniël (3) is in Augustus met dié genadelose siekte gediagnoseer.

Neuroblastoom is ’n kanker wat uit onvolwasse senuweeselle in verskeie dele van die liggaam ontwikkel.

Dit ontstaan gewoonlik in en rondom die byniere en versprei later na die senuweeselle.

Dit kan ook in ander dele van die maag en in die bors, nek en naby die ruggraat ontwikkel waar groepe senuweeselle is.

Neuroblastoom raak meestal kinders onder die ouderdom van vyf jaar.

Dié siekte word laat gediagnoseer omdat dit eers later in die senuweeselle begin groei en dan verder versprei.

“Daniël het oor maag- en beenpyn begin kla.

“Ons het hom by drie verskillende privaat dokters gehad.

“Elke keer het hulle net gesê dat hy blaasinfeksie het, maar hy het nie beter geword nie.

“Van die dokters het selfs gesê dat sy derms verstop is.

“Ons het nie ’n mediese fonds nie en het geen ander keuse gehad as om hom na ’n staatshospitaal te neem nie,” het me. Nelson vertel.

’n Dokter by Evander Hospitaal het gesê daar is ’n vergroeisel in sy maag en het hulle na die eMalahleni (Witbank) Hospitaal verwys.

“Ek het die volgende oggend steeds nie geweet wat Daniël makeer nie.

“Hy is per ambulans na die Steve Biko Hospitaal vervoer waar hy na die kankerafdeling geneem is.

“Niemand het steeds vir ons gesê wat fout is nie.

“Dit was vir my erg toe ek self moes vra of my kind kanker het,” het sy gesê.

Eers toe die suster aan diens Daniël se vorms begin invul het, het sy die werklikheid van haar kind se toestand besef.

Na bloedtoetse en skanderings is daar ’n groot vergroeisel in sy dermkanaal gevind.

Dokters het ’n biopsie gedoen.

Dit duur gewoonlik bykans ’n uur, maar Daniël se hart het byna gaan staan en die operasie het toe langer as vier ure geneem.

“Hy het met chemoterapie begin en moes vir ’n maand in die hospitaal bly.

Daniël het baie bloedoortappings gekry omdat hy so swak was.

“Ons kon hom Kersfees huis toe bring, maar hy moes weer in Januarie terug gaan hospitaal toe.

“Dit breek my hart om my kind in soveel pyn te sien,” het me. Nelson verduidelik.

Daniël huil kort-kort en roep na sy ma omdat hy in soveel pyn is.

Hy is lief vir hengel en sodra hy hoor dat hulle die naweek gaan hengel, lyk dit of hy beter begin voel.

Die kanker is al in die vierde fase en het ook na sy brein begin versprei.

Sy ouers het verkies om hom nou by die huis te versorg omdat hulle soveel tyd moontlik saam met hom wil bestee.

Hy is te swak om nog chemoterapie te kry, maar drink wel chemo-pilletjies.

“Ons droom is om hom Ushaka Marine World in Durban toe te neem sodat hy al die groot visse kan sien.

“Hy sal dit baie geniet omdat hy so lief is vir visse en hengel.”

Omdat Daniël se kanker in fase vier is, is dokters onseker hoe lank hy nog sal leef.

Hulle kan ook glad nie op hom opereer nie omdat neuroblastoom in die senuweeselle groei.

Skakel me. Tanya Nelson by 081 463 0470.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button