Bethal-seun word vir veloorplantings voorberei
Kyle se volgende operasies behels die verwydering van die vel op sy rug ter voorbereiding van veloorplantings.
BETHAL – Dit gaan goed met Kyle Werner, die 11-jarige seun van Laerskool H.M. Swart, wat op 3 Maart brandwonde by sy huis op Bethal opgedoen het.
Kyle het in die laaste twee weke talle operasies in die Netcare Clinton Hospitaal op Alberton ondergaan om die gebrande weefsel van sy wonde te verwyder en vir veloorplantings voor te berei.
Hy moes tydens dié operasies bloedoortappings kry omdat sy wonde baie gebloei het.
Kyle het gebrand toe hy ’n bottelproppie vol brandstof uit ’n kan wat sy ma vroeër gekoop het om die gras mee te sny, aan die brand gesteek het.
Sy vingers het gebrand en hy het die inhoud van die proppie op hom laat val.
Die vuur het van daar versprei en ook ’n kan olie laat vlam vat.
Kyle het brandwonde aan sy bene, bolyf en arms opgedoen.
Me. Engela Werner, Kyle se ma, het bevestig dat van die minder ernstige wonde, soos dié op sy arm, se verbande al verwyder is.
Sy linker been se toestand het ook verbeter.
Hy eet ook nou beter.“Hy het gister blokkies kaas en ’n jogurt geëet,” het me. Werner bygevoeg.
Kyle se volgende operasies behels die verwydering van die vel op sy rug ter voorbereiding van veloorplantings.
Donasies kan gemaak word aan die Kyle Fonds wat deur laerskool H.M. Swart geadministreer word, by Abasa, takkode 632005), rekeningnommer 9327552888.




